Kundiges wat nog twyfel oor die werklikheid van aardverwarming verlaat nooit hul kantore nie, het mnr. Don Pinnock, bekende Suid-Afrikaanse skrywer van reisboeke, op die bekendstelling van 'n boek oor aardverwarming en klimaatverandering in Kirstenbosch gesê.
Die boek Scorched: South Africa's changing climate deur me. Leonie Joubert, fokus op die klein dingetjies, die mikro-aanwysers van groter kwessies, sê Pinnock. "Ons moet weet dat voëls wat hul vlugpatrone verander en krewe wat uit die see stap, iets met klimaatverandering te doen het.
"Scorched is nie 'n gerusstellende boek nie, want aardverwarming is 'n onrusbarende kwessie. Dit word warmer en ons verloor plant-, dier- en inseksoorte. Die voorste besoedelaar wil nie die ooreenkoms onderteken wat daarop gemik is om kweekhuisgasse, wat onder meer vir aardverwarming verantwoordelik is, te verminder nie."
Pinnock sê aardverwarming kan dalk meebring dat mense hul woon- en werkplekke, eetgewoontes en hele leefwyse sal moet verander. Daar sal 'n tyd kom dat vliegtuigreise vir plesier net so 'n groot skande as dronkbestuur sal wees. Hy vra wat die mens dan kan doen met sy kennis oor aardverwarming en klimaatverandering. "Regerings en groot korporasies kyk anderpad, want dit is sleg vir besigheid. Dit is 'n morele kwessie. Elkeen moet 'n bydrae maak om mense se impak op die omgewing te verminder."
Joubert sê haar boek was skaars klaar gedruk, toe die Stern-verslag oor die ekonomiese en finansiële implikasies van klimaatverandering in Brittanje verskyn het. "Die boodskap van die verslag is as ons voortgaan om teen die huidige tempo kweekhuisgasse in die atmosfeer vry te stel, gaan die wêreld 'n ekonomiese depressies soortgelyk aan dié van die Groot Depressie van die 1930's beleef.
"Ons natuurlike omgewing is besonder kwesbaar vir verandering. Ons staan letterlik op 'n lekkende Noagsark. Ek is bly ek is nie een van die omgewingswetenskaplikes wat moet besluit watter spesies die belangrikste is om te probeer red en watter nie."
Me. Leonie Joubert
Landbouweekblad, 5 Januarie 2007