'n Merk wat verbruikers van avokado's die versekering sal gee dat die vrugte wél sal ryp word, gaan vanjaar aangebring word.
Mnr. Derek Donkin, uitvoerende hoof van Subtrop (die kwekersvereniging vir avokado's, mango's, lietsjies en makadamias), sê die verkoop van onvolwasse avokado's vroeg in die seisoen is jare reeds 'n probleem met ongunstige gevolge vir die avokadobedryf. Verbruikers trap elke jaar in die strik deur onvolwasse vrugte te koop wat te vroeg gepluk is. Sulke vrugte word nie behoorlik ryp nie en verbruikersvertroue in die produk bly in die slag.
Die sekerheidsmerk sal aangebring word op vroeë Fuerte-avokado's wat vir die varsproduktemarkte in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad bestem is.
Die Departement van Landbou sal tot 15 Maart Fuerte-avokado's op dié markte inspekteer. Volgens plaaslike markregulasies is avokado's met 'n voginhoud van meer as 80 % onvolwasse en sal sulke vrugte nie ryp word nie. Sulke vrugte sal as lae graad geklassifiseer word.
Volgens Subtrop is hierdie regulasies noodsaaklik omdat daar kwekers is wat onvolwasse vrugte aanbied om die hoë pryse vroeg in die seisoen te kry.
Subtrop moedig avokadoprodusente aan om die rypwording-sekerheidsveldtog te ondersteun. Vir meer inligting, bel Subtrop in Tzaneen by tel. 015 306 6240.
2 Februarie 2007