Suid-Afrikaanse tafeldruiwe sal waarskynlik reeds volgende seisoen (2007/'08) na China uitgevoer word. Appels en pere sal egter eers oor sowat 18 maande na dié land uitgevoer kan word, hoewel Chinese appels en pere reeds teen einde vanjaar op Suid-Afrikaanse winkelrakke kan verskyn.
Prof. Daan Louw, hoofdirekteur van Optimale Agri Besigheidstelsels (OABS) in die Paarl, sê ná die ondertekening van die protokolle tussen die Suid-Afrikaanse en Chinese staatshoofde, is die weg gebaan vir die uitvoer van dié vrugtesoorte. Weens tegniese redes sal appels en pere egter nie, soos tafeldruiwe, in die volgende seisoen na China uitgevoer kan word nie.
Louw sê mense moet besef dat die ooreenkomste tussen Suid-Afrika en China veel eerder op die uitvoer van minerale gemik is. "Die landbou se rol daarin is eintlik maar nietig."
Die ooreenkomste is egter nie bloot ook vir die uitvoer van vrugte nie. Talle reëls geld, waaronder dat voornemende uitvoerders eers vir permitte by die Suid-Afrikaanse en Chinese regerings moet aansoek doen. As dit goedgekeur word, kan vrugte net na sekere dele van China uitgevoer word asook net deur sekere hawens.
Die Chinese inspekteurs het reeds die Suid-Afrikaanse vrugteproduserende gebiede en plase besoek, maar Suid-Afrikaanse inspekteurs sal eers teen September na China gaan vir soortgelyke inspeksies.
Louw meen hoewel die protokolle nou die weg baan, is dit nie te sê dat China werklik noemenswaardige hoeveelheid appels en pere na Suid-Afrika gaan uitvoer nie. Die Suid-Afrikaanse mark is baie klein en dit is duur om vrugte van China na Suid-Afrika te stuur. Met 'n onlangse besoek het Chinese uitvoerders nie juis oorgretig gelyk om vrugte hiernatoe te stuur nie weens die skeepsvervoer- (35 dae per skip) en verkoelingskoste.
Hy glo steeds China is 'n geleentheid vir plaaslike vrugte-uitvoer. Daar is verbasend baie ryk mense in China. As byvoorbeeld net 10 % van daardie land se bevolking as ryk of gegoed geag word, beteken dit sowat 100 miljoen mense. In ag genome dat Suid-Afrikaanse appels en pere baie beter, lekkerder en mooier is as dit wat algemeen in China beskikbaar is, sal sulke mense die ingevoerde produkte opraap ongeag die prys. En as in ag geneem word die hele Suid-Afrikaanse appeloes is sowat 250 000 ton per jaar en net 10 % daarvan kan na China gaan in plaas van na Europa, kan dit 'n reuse verligting op daardie reeds oorlaaide vrugtemark wees.
Vakbonde is ook aan die werk in China en hul arbeidskoste gaan nie meer lank só laag bly soos nou nie. Dit, tesame daarmee dat die Chinese vrugte ook al hoe meer gesofistikeerd word, maak dat hul produksiekoste ook nie meer vir lank soveel minder as dié in Suid-Afrika gaan wees nie, meen Louw.
Landbouweekblad, 16 Februarie 2007