Landbou
Boere in opstand oor kalfpryse
ISABEL STOLTZ

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) se prysmoniteringskomitee genader om ondersoek in te stel na hoë verbruikerspryse vir vleis — onder meer ná produsentepryse met tot 23 % gedaal het.

Rooivleisprodusente in Limpopo is só die josie in oor die toedrag van sake dat hulle voerkrale by die Mededingingskommissie wil aangee vir beweerde samespanning om pryse van speelkalwers af te druk.

In sekere dele van die land is 'n daling van gemiddeld 23,6 % in speenkalfpryse sedert begin Januarie aangeteken.

Boere in Limpopo sê hulle is "woedend" oor 'n beweerde sameswering van voerkrale om saam te staan om speenkalfpryse at te dwing.

"Lede van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging het laat blyk dat hulle op 'n vergadering ooreengekom het om nie meer as R10/kg lewende gewig te betaal vir ligte speenkalwers nie," sê mnr. Petrus van Heerden, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Limpopo.

Die nasionale RPO is versoek om die saak by die Mededingingskommissie aan te gee.

Mnr. Gerhardt Schutte, hoofbestuurder van die nasionale RPO, sê die versoek is ontvang, maar geen optrede word beoog voor ál die provinsiale RPO's en affiliasies in die saak geken is nie.

Die RPO het die NLBR gevra om ondersoek in te stel na die hoë verbruikerspryse vir vleis.

Melkmaatskappye is onlangs beboet omdat die Mededingingskommissie bevind het dat hulle saamgesweer het om melk teen 'n vasgestelde prys by produsente te koop.

Daar is groot ongelukkigheid by vleisprodusente oor die daling in slagpryse wat reeds in Desember begin het en nog nie op die winkelrakke weerspieël word nie.

Dié onderwerp het 'n lewendige debat op Landbouweekblad se gesprekforum ( www.landbou.com) uitgelok en van die produsente meen dit is tyd dat boere saamstaan en ingryp in hul mark. Die belangrikheid is geopper dat verbruikers ingelig word oor die verskil tussen "boerpryse en winkelpryse".

"Die handel vat net 'n al hoe groter hap uit die produsent se rand," sê mnr. Lardus van Zyl, ondervoorsitter van die RPO en voorsitter van die RPO in Noordwes.

Hy sê slagpryse het in September tot R22,50/kg gestyg, maar in Desember begin daal en staan nou op R17/kg.

Speenkalfpryse was in September R16,50/kg en staan nou op R11/kg. Die verwagting is dat dit verder gaan daal tot R10/kg. Só 'n daling verteenwoordig 'n verlies van honderde duisend rand vir 'n speenkalfprodusent in 'n jaar.

"Die handel gee die daling nie deur na die verbruiker nie en op kort termyn maak hy groot wins, maar op die langer termyn draai hy sy eie nek om met verbruikersweerstand en 'n lae omset weens hoë pryse". Almal in die proses kry seer — dit kom net op verskillende tye. 'n Mens kan nie die mark manipuleer nie, want dan vernietig hy jou.

"As die handel vinniger kan reageer om prysdalings aan die verbruiker deur te gee, sal die situasie heel anders lyk — tot voordeel van almal."

Van Heerden sê in 'n verklaring dit is vreemd dat beesvleispryse daal in 'n tyd waarin daar wêreldwyd 'n tekort ondervind word. Die voorspelling is dat gebruik per kop in ontwikkelende lande met 40 % gaan groei.

"Argentinië het uitvoer beëindig vanweë te hoë binnelandse pryse en Brasilië het nog nie begin uitvoer na Suid-Afrika nie. Australië en Nieu-Seeland kan nie met ons binnelandse pryse meeding nie.

"Niemand voer in elk geval in wanneer binnelandse pryse skerp daal nie.

"Al vleis wat ingevoer word, is ontbeende gevriesde vleis wat bestem is vir verwerking.

"As in ag geneem word dat voerkrale konserwatief en min sedert November 2006 gekoop het en daar nie vleis ingevoer word wat met ons produk kan meeding nie, is dit logies dat groot tekorte oor die volgende paar maande verwag kan word.

"Die situasie is sleg vir ons ekonomie en sleg vir die verbruiker."

Landbouweekblad, 16 Februarie 2007