Die SA jag- en wildbedryf is betreklik tevrede met die nuwe regulasies wat deur mnr. Marthinus van Schalkwyk, Minister van Omgewingsake en Toerisme, afgekondig is, maar dit wil lyk asof die leeubedryf 'n doodskoot gekry het.
Die nuwe regulasies wat vanjaar op 1 Junie in werking tree, bepaal onder meer dat groot roofdiere en renosters wat vir jagdoeleindes geteel of gekoop word, 24 maande vry moet loop voor hulle geskiet mag word. Dit verbied ook die jag van diere met dik velle en groot roofdiere met 'n pyl en boog en daar mag nie meer van 'n bakkie af geskiet word nie.
Van Schalkwyk sê in 'n persverklaring oor die regulasies vir bedreigde of beskermde wildsoorte hy kondig dié regulasies met vreugde aan ná drie jaar van raadpleging tussen die Regering, die publiek, die wildlewebedryf en dierewelsynsgroepe asook aanbevelings deur 'n groep kenners wat hy in Januarie 2005 aangestel het.
Hy het dit beskryf as die begin van 'n skoonmaakproses van die wild- en jagbedryf wat om die grondslag te lê vir 'n goed gereguleerde en etiese jag- en wildplaasbedryf in Suid-Afrika. "Terwyl ons hul beduidende en goeie bydrae tot bewaringsbestuur en ekonomiese groei waardeer, het ons ook die verantwoordelikheid om die bronnebasis te bewaar om te verseker dat die bedryf 'n volhoubare toekoms het".
"Om dít reg te kry moet ons 'n balans vind tussen ekonomiese oogmerke en die doelstellings van bewaringsbestuur. Jag is 'n belangrike bedryf, maar ons moet dit aan die hand van etiese en verdedigbare standaarde bestuur," lui die verklaring.
Dit is die eerste stap. Die volgende stap is om nóg groter eenvormigheid in die jagbedryf te bewerkstellig met nasionale norme en standaarde, wat met die noue samewerking van die bedryf en ander belanghebbendes gedoen sal word.
Hy het gesê dat nasionaal gelyste wildsoorte vir die eerste keer landwyd dieselfde bewaringstatus sal hê en dat dit aan die Regering nuwe mag sal gee om te verseker dat die land se biodiversiteit op 'n ekologies volhoubare manier benut word.
Permitte sal vir 'n wye reeks bedrywighede nodig wees en die onwettige handel in die bedreigde vis-, voël- en plantsoorte sal uitgeroei word. Dieselfde wetlike standaarde sal landwyd bestaan, wat skuiwergate sal toestop.
Verskerpte wetstoepassing, waarin die Groen Skerpioene 'n sleutelrol gaan speel, sal die owerheid se erns om die land se biologiese erfenis te beskerm, beklemtoon.
Die regulasies stel 'n eenvormige nasionale stelsel daar vir die registrasie van teelprojekte van diere in aanhouding, kommersiële uitstalgeriewe, wildplase, kwekerye, wetenskaplike instellings, reservate en rehabilitasiesentra wat almal aan streng voorskrifte sal moet voldoen.
Vir die eerste keer sal voorsiening gemaak word vir jagorganisasies en die toepassing van kodes vir etiese gedrag en optrede.
Permitte sal nodig wees om op wildplase te jag en kwekerye te bedryf. Dit sal permithouers verplig om belangrike inligting aan die owerhede te verskaf, wat sal bydra om die status van die biodiversiteit in die land te bepaal.
Landbouweekblad, 2 Maart 2007