Landbou
Kelners verdien meer uit wyn as boere
LUCILLE BOTHA

Die Wes-Kaapse minister van landbou sal sy werk op die spel plaas in sy pas-verklaarde oorlog teen sondebelasting op wyn.

Mnr. Cobus Dowry het 'n beroep op boere gedoen om nie handdoek in te gooi nie, maar geduldig te wees, want die "Regering se wiel draai verskriklik stadig".

Ekonome in die provinsiale departement van landbou het reeds in Augustus verlede jaar met mnr. Trevor Manuel, Minister van Finansies, om die tafel gesit om oor die heffings op wyn te onderhandel.

Manuel het aangekondig aksyns sal met sowat 10 % styg. 'n Bottel wyn van 750 ml sal dus voortaan 13 sent duurder wees.

"Hoeveel werkgeleenthede gaan verlore gaan as hy 13 sent per bottel bysit? 'n Kelner in 'n restaurant kry meer (per bottel wyn as die fooitjie bygereken word) as die boer op die grond. Ook die Regering kry meer geld van daardie bottel wyn as wat die boer kry. Dit is nie reg nie. Dit gaan die landbou afbreek en ons gaan werkgeleenthede verloor," het Dowry op die vergadering van die landbouvereniging Philadelphia gesê.

Hy het hom voorgeneem om teen die heffings te baklei. "Ek gaan seker my werk daaroor verloor, maar nou ja," het hy gesê.

Hy het produsente aangemoedig om nie die landbou te verlaat nie. "Die landbou is die ruggraat van die ekonomie in die Wes-Kaap. Dit is van kardinale belang dat julle op jul plase bly. Nie net sal ek probeer toesien dat julle bly nie, ek sal ook kyk waar ons hulp kan kry," het Dowry belowe.

Volgens hom het hy reeds twee jaar gelede met boere begin gesels oor die heffing van 2 % op koring. Hy is toe meegedeel dat 'n heffing van 8 % 'n groter wins vir die koringboere sal beteken. "Ons onderhandel nog daaroor," het hy die boere verseker.

Landbouweekblad, 9 Maart 2007