Die maatskaplike uitbetalings aan sommige plaaswerkers ("all pay"), lankal reeds 'n kopseer vir baie boere, is op die eerste week van Agri Wes-Kaap se reeks streekkongresse wyd gekritiseer. Volgens kongresgangers is dit omdat plaaswerkers dit "nie reg aanwend nie" en plase se produktiwiteit daaronder ly.
Mnr. Jan Viljoen, 'n vrugte- en graanboer van die Greyton-omgewing, gebruik gereeld seisoenale werkers. Hy sê die maatskaplike uitbetalings is 'n teer onderwerp wat veral vrugteprodusente raak wat in seisoentyd meer werkers nodig het.
Volgens hom het sy seisoenale werkers hom kort voor Februarie se uitbetalingsdag genader om vervoer na Genadendal te verskaf. Hulle sou ook nie die dag kom werk nie.
"Uit die 25 plukkers het vyf nie opgedaag nie, maar my voertuig het in elk geval gery. Die dag ná die uitbetalings het vyf werkers weer nie opgedaag nie." Viljoen sê dié toneeltjie herhaal hom elke maand.
"Ek is nie teen toelaes vir ma's met babas of mense wat nie kan werk nie, maar daar moet gekyk word na hoe dit aangewend word."
Hy meen swangerskappe onder 15-jarige meisies het toegeneem sedert die stelsel begin het. Ook, sê hy, is daar mense wat ongeskiktheidstoelaes kry, maar hulle werk daagliks in die vrugteboord.
"Ons woon in 'n streek met 'n hoë voorkoms van drankprobleme. Ons moet ophou om vir dié mense kontant in die hand te druk. Kan ons hulle nie dwing om bankrekenings te hê nie? Dit sal diefstal ook verminder," het hy gesê.
Volgens Viljoen maak die huidige stelsel dat hulle nie die werkers kan vertrou nie.
"Die gevolg is dat ons na ander gewasse kyk wat minder arbeid nodig het. Dit sal werkloosheid laat toeneem en die Wes-Kaapse ekonomie skade berokken."
Volgens mnr. Weber Truter van Herold, naby Oudtshoorn, word daar op nasionale en provinsiale vlak na 'n kaartstelsel gekyk.
"Die stelsel is 'n groot probleem by mense wat dit nie reg gebruik nie," het hy gesê.
Landbouweekblad, 16 Maart 2007