Landbou
Beeld van landbou is uitdaging
LUCILLE BOTHA

Die ongunstige beeld oor landbouers is tans een van die grootste uitdagings in die landbou, sê mnr. Christoff Cloete, voorsitter van Agri Wes-Kaap.

In 'n toespraak wat deur mnr. Ernst Bester, ondervoorsitter, op Agri Wes-Kaap se streekkongres op Caledon voorgelees is, het Cloete gesê dit is moeilik om die Regering of enige ander besluitnemers te oortuig van die meriete van hul saak solank as wat ongunstige sieninge oor die bedryf en sy mense bestaan. "Ongelukkig is daar individue en groepe wat skynbaar munt slaan uit 'n slegte beeld van die landbousektor."

Hy het verwys na die Britse aktrise Emma Thompson wat onlangs die Wes-Kaap besoek het om die toestande van plaaswerkers by Tesco, 'n supermarkgroep, tuis te bring.

"Dit voel soms vir my asof ons net heeltyd vure doodslaan ten opsigte van hierdie saak". Om die beeld van die landbou te verbeter, sal ons onder meer die debat moet verskuif. Die fokus is tans op menseregte en maatskaplike kwessies eerder as op winsgewendheid en volhoubaarheid.

"Die landbouer word dikwels uitgekryt as 'n feudale, selfsugtige kapitalis eerder as 'n professionele persoon wat 'n beroep in 'n moderne wêreld beoefen. Die uitdaging vir ons is om hierdie wanindruk te verander. Ons kan dit net doen deur verantwoordelik en professioneel op te tree."

Cloete sê boere moet gesien word waar hulle maatskaplik verantwoordelik optree en by mensontwikkeling betrokke is.

"Ons doen dit in elk geval al geslagte lank, maar ons moet dit aanhou doen. Ons moet die eise van die moderne wêreld en die geleenthede daarvan gebruik en maniere vind om dit te kommunikeer."

Landbouweekblad, 16 Maart 2007