Grondbelasting is 'n emosionele kwessie. Soveel so dat in Brasilië mense al hul lewens daaroor verloor het. Daar is egter "eerbare" voordele tot grondbelasting en 'n beperkende beleid op grondbesit.
Só sê mnr. Mark Cackler, bestuurder van landbou en landelike ontwikkeling by die Wêreldbank. Hy het ná die Wêreldbank se konferensie met parlementslede in Kaapstad aan Landbouweekblad gesê grondbelasting en 'n beperkende beleid op grondbesit, soos onlangs weer in Suid-Afrika deur die Departement van Grondsake voorgestel word, is nie net nadelig nie.
"Dit ondersteun die onderliggende doel dat grond vir produktiewe doeleindes gebruik moet word. 'n Goeie grondregister moet egter bestaan veral waar beperkinge ingestel word," het hy gesê.
Cackler sê belasting is tog 'n manier om geld in te samel. Veral in die lig van grondhervorming kan die toepaslike belasting tot 'n beter mark bydra omdat grond nie bloot vasgehou word nie. Wêreldwyd word aanvaar grondbelasting kan in die openbare belang gebruik word.
Hy stem nie saam dat bykomende belasting bloot in die administrasie van die besondere belasting gebruik word nie, want in die algemeen is eiendomsbelasting goedkoper om te administreer as belasting op verkope of BTW-belasting.
Hy wil hom egter nie spesifiek op die Suid-Afrikaanse situasie uitlaat nie, aangesien dit steeds onseker is wat die aard van die voorgestelde grondbelasting gaan behels.
Die staat werk tans daaraan om 'n meer gebruikersvriendelike grondregister op die been te bring, het mnr. Glen Thomas, direkteur-generaal van die Departement van Grondsake, in 'n vroeëre voorlegging aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou en grondsake gesê.
Landbouweekblad, 6 April 2007