
Suid-Afrika het pas 'n ridder ryker geword! Mnr. Kobus Mulder is deur die Franse regering as Chevalier de l'Ordre du Mérite Agricole benoem is vir sy bydrae tot die Franse kaasbedryf.
Mulder, die bestuurder van Suiwel by Agri Expo, is die tweede mens in Suid-Afrika met dié titel, wat vandeesweek tydens die Qualité-toekennings in Stellenbosch aan hom oorhandig is.
Die Franse minister van landbou, Dominique Bussereau, sê hierdie toekenning, wat 40 jaar se mylpale in die suiwelbedryf erken, is ook 'n blyk van waardering aan Mulder vir sy inisiëring van die Franse Kaasmakerbeurs drie jaar gelede.
Die Mérite Agricole-medalje word hoofsaaklik aan Franse burgers toegeken, maar buitelanders wat besondere bydraes tot die Franse landbou maak, word ook per geleentheid met dié gesogte toekenning vereer.
"Ek het altyd 'n eensydige liefdesverhouding met hierdie land en sy kase gehad. Dat hulle my erken daarvoor, is 'n bonus en geweldige eer," sê Mulder.
Dié eer aan Mulder volg kort op die hakke van 'n onlangse prestasie toe hy as offisier ingelyf is by die Confrèrie des Chevaliers du Taste-Fromage de France in Parys. Die Confrèrie is 'n eksklusiewe groep Franse kaasgeesdriftiges wat in dié bedryf betrokke is en reeds sedert die Middeleeue aktief is as broederskap.
Reeds vir 20 jaar 'n kaastegnoloog en 15 jaar in plaaslike en internasionale kaasbemarking, is Mulder ook kaaskonsultant plaaslik en in Afrika, asook die enigste internasionale kaasbeoordelaar in Suid-Afrika.
Hy het in 2005 die Franse Kaasmakerbeurs in die lewe geroep en dié beurs word deur 'n samewerkingsooreenkoms tussen die Conseil Régional de Bourgogne en die Wes-Kaapse Provinsiale Regering moontlik gemaak en befonds. Wes-Kaapse kaasmakers kry só die geleentheid om vir drie weke lesings in kaasmaak by te woon asook in kaasmakerye in Boergondië te werk.
Franse kaasmakers sal vanaf 2008 vir die eerste keer deelneem aan dié uitruilskema deur in Wes-Kaapse kaasmakerye te werk en hul kennis met plaaslike kaasmakers te deel.
Vanjaar se wenners van dié gesogte beurs is Estalanie Marais van La Rochelle Bokmelkkaas, Stefan Pockpas van Tantinki Bokmelkkaas, Mario Jumat van Simonsberg Kaas en Mahlamola Moso van Kimilili Farm Cheese. Dié vier kaasmakers sal Frankryk in Junie 2007 besoek.
16 April 2007