Landbou
Mbeki beloof landbou-voorkeur
JEAN-MARIE DE WAAL

Dit is duidelik dat pres. Thabo Mbeki die landbou weer as 'n voorrangsektor in die ekonomie wil beklemtoon, het mnr. Corwyn Botha, voorsitter van die Landboubesigheidskamer (LBK), ná 'n vergadering tussen die georganiseerde landbou en die presidensiële landbouwerkgroep in Kaapstad gesê.

Een van die belangrikste besluite op die vergadering is dat Mbeki ingestem het dat die strategiese plan vir die landbou hersien moet word.

Belangrike sake waaroor die landbou besorg is, soos biobrandstof, grondhervorming en droogte, is ook op dié vergadering bespreek. Volgens Botha en ander afgevaardigdes het die vergadering in 'n goeie gees afgeloop en is daar konsensus oor verskeie kwessies bereik.

Nogtans het Mbeki na bewering opgemerk dit is vreemd dat verteenwoordigers van die nie-kommersiële beweging vir vroue in die landbou en landelike ontwikkeling (Ward) en die Food & Allied Workers' Union (Fawu) ook teenwoordig was.

Die vernaamste besprekingspunt was die ontwikkeling van 'n doelgerigte instelling, oftewel "Special Purpose Vehicle" (SPV), wat onder meer die haakplekke in grondhervorming moet hanteer. Die konsep van dié voorstel is reeds 'n geruime tyd in landboukringe bekend — só ook dat die SPV deur die Land Bank bestuur sal word. Die georganiseerde landbou meen daar moet nog heelwat werk gedoen word voor dié instelling in werking kan tree.

Me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, het ná die vergadering egter nie vrae beantwoord oor die Land Bank se vermoë om nóg verantwoordelikhede te kan hanteer nie. Sy sê daar word nog gewerk aan die fynere detail van die SPV wat sal bystaan met die proaktiewe verkryging van grond vir ontwikkeling.

Volgens haar is die Regering nie gereed met die oordrag van grond en vaardighede nie. Om dit te hanteer, word daaraan gedink om 'n grond- en ontwikkelingsagentskap op die been te bring. Dit sal moontlik 'n eie raad en hoof uitvoerende beampte hê om te help om die mikpunt van 30 % grond in swart hande teen 2014 te bereik sonder om landbouproduksie te belemmer, sê sy.

Mnr. Lourie Bosman, voorsitter van Agri SA, sê sake wat bespreek is, het veral op die toepassing van beleid gefokus. 'n Sterk klem is op die ekonomiese groei van die sektor geplaas.

Bosman maan dat die plan vir biobrandstof so gou moontlik gefinaliseer moet word sodat nóg 'n produksieseisoen nie verlore gaan nie. Hy hoop 'n nuwe tariefbeleid sal binnekort op die tafel wees. Mnr. Mandisi Mpahlwa, Minister van Handel en Nywerheid, het die vergadering bygewoon, asook dr. Mohammad Karaan, voorsitter van die Nasionale Bemarkingsraad wat dié kwessie ondersteun.

Mnr. Motsepe Matlala, voorsitter van Nafu, sê hy is "baie gelukkig" met die uitkoms van die vergadering.

Die afgevaardigdes wat die kommersiële sektor verteenwoordig het, was van Agri SA, Nafu, die TLU SA, die Departement van Landbou en die Departement van Grondsake.

Die werkgroep is in 2002 deur Agri SA en die National African Farmers' Union (Nafu) in die lewe geroep om die belange van die kommersiële landbou op die hoogste vlak te hanteer. Dit is geskoei op samewerking tussen diegene wat die strategiese plan vir die landbou in 2001 onderteken het.

Afgevaardigdes, dr. Mohammad Karaan (NLBR), dr. Tobias Doyer (middel) Landboubesigheidskamer en mnr. Corwyn Botha, LBK. Links, President Thabo Mbeki.

Van links, mnre. Tozi Gwanya (hoof grondeisekommissaris), mnr. Bennie van Zyl (TLU SA) en mnr. Masiphula Mbongwa, direkteur-generaal van die Departement van Landbou).

Landbouweekblad, 25 Mei 2007