Landbou
'Mdladlana het drogbeeld van landbou'
NICO VAN BURICK

Mnr. Membathisi Mdladlana, Minister van Arbeid, het 'n drogbeeld oor wat in die landbou aan die gang is. Boere moet hom na 'n paar plase nooi sodat hy self kan sien werkers word nie mishandel nie, sê dr. Roelof Botha, bekende ekonoom.

Hy het op 'n MGK-boeredag buite Rustenburg gesê die Regering moet ophou om voor te gee dat mishandeling op plase die norm is net omdat daar een of twee geïsoleerde voorvalle plaasvind. "Dit is nie die norm nie. Die landbou is die grootste enkele werkskepper in die land."

Hy sê die Regering moet eerder sorg dat die speelveld gelyk is deur aan die landbou bystand te verleen. "Die landbou dra regstreeks en onregstreeks by tot 25 % van die land se bruto binnelandse produk en dit is van groot belang dat die Regering dié boodskap kry."

Hy sê die ekonomiese groeipatroon is op die oomblik die sterkste die afgelope 50 jaar en dit is nie eers debatteerbaar nie dat dit sal bly groei teen 4 % tot 6 % tot minstens 2010. "Soos mense se besteebare inkomste verhoog, verander hul smaakpatrone en hulle koop duurder kos.Dit is belangrik dat boere hierdie neiging in ag moet neem — veral ten opsigte van toegevoegde waarde."

Botha sê die Wêreldbeker-sokkertoernooi kan ook groot voordele vir die land inhou. Die aantal buitelandse toeriste wat die land besoek, kan binne drie jaar ná die toernooi vertiendubbel.

Hy sê die Regering het 'n moderne ekonomiese wonderwerk vermag, maar een tekortkoming is 'n basiese inkomstetoelaag aan armes. Hy sê in die afgelope twee boekjare het die staat se belastinginkomste sy begrotings met R75 miljard oorskry. Dit is genoeg om aan elke werklose 'n toelaag van R200 per maand vir vyf jaar te betaal.

Volgens Botha het Brasilië 'n soortgelyke toelaag ingestel en die gevolg was die hoogste ekonomiese groei in die land in 18 jaar en 'n dramatiese afname in misdaad wat met armoede verband hou.

Landbouweekblad, 1 Junie 2007