Onderhandelinge tussen boere en die munisipaliteit van Modimolle (Nylstroom) in Limpopo oor die afgelope 4 jaar het vrugte afgewerp toe grondbelastings wat sedert 2003 voortydig gehef is, grootliks afgeskryf is.
"Dit is wat kan gebeur as boere saamstaan en aandring op goeie regering," sê mnr. Jakes Breedt, voorsitter van Vaalwater Distrikslandbou-unie.
Die saak is gesamentlik beding deur Breedt en mnr. Hannes Jansen, voorsitter van Waterberg Agri SA.
Boere in die gebied het erg teengeskop toe die stadsraad grondbelastings ingevolge 'n ou Transvaalse Ordonnansie van 1977 begin hef het nadat die Munisipale Afbakeningswet dorpsgrense tot die totale distrik uitgebrei het om ook plase in te sluit.
Boere het die belastings en die proses om 'n nuwe waardasierol op te stel, geboikot omdat die munispaliteit nie wetlike vereistes nagekom het nie en boere die belastings dus as onwettig beskou het.
Dit het die munisipaliteit genoop om landbou by samesprekinge te betrek.
Volgens Breedt het die burgemeester, mnr. Stietse Mhohapi 'n leidende rol gespeel om die kwessie deur onderhandeling te probeer oplos.
"Die amptenary se outokratiese bestuurstyl was 'n groot struikelblok."
Nuwe belastingsriglyne sal nou in 'n deelnemingsproses tot stand kom met landbou se insette.
In 'n ander geval het 'n regter van die Hooggeregshof in Pretoria onlangs die munisipaliteit van Nonkeng-tsa-Taemane ingeklim omdat hulle 'n belangrike saak oor grondbelasting vertraag omdat hulle nie hofprosedures nagekom het nie.
Hy het die munisipaliteit as onbevoeg bestempel en gesê daar is 'n gebrek aan respek vir die regsproses.
Vir die tweede keer is 'n strafkoste bevel teen die munisipaliteit gegee in dié saak wat al sedert 2002 sloer.
Die saak spruit uit grondeienaars se weiering om voortydige grondbelasting te betaal omdat die munisipaliteit nie ingevolge wetlike vereistes optree nie.
"Die munisipaliteit beskou wetgewing slegs as 'n riglyn wat volgens keuse aangepas kan word," sê mnr. Louis Meintjes, voorsitter van Cullinan Distrikslandbou-unie.
Die saak is tot later vanjaar uitgestel.
21 Junie 2007