'n Grondeis in Mpumalanga wat bestempel word as 'n mylpaal vir restitusie, is afgehandel. Altesame 32 000 kosbare suikerkwotagrond ter waarde van meer as R1 miljard is aan meer as 800 gesinne oorgedra.
Die eis vorm deel van die groter Tenbosch-eis in die Nkomazi-gebied en die grond is deur me Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, oorhandig. Mnr. Tozi Gwanya, hoofgrondeisekommissaris, het dit as 'n groot prestasie vir die vier eisergemeenskappe bestempel. Hy sê daar word beoog om net in Junie sowat 108 332 ha ter waarde van meer as R14 miljard aan meer as 14 000 gesinne oor te dra.
Die meulenaarsgrond van die Tenbosch-eis wat oorgedra is, is deel van 'n vindingryke projek waarin die suikermaatskappy TSB Sugar en die eisers saamspan om volhoubare suikeriet te produseer en toevoer tot die suikermeulens te verseker. Die staat betaal vir die grond en die eisers is die nuwe eienaars. TSB Sugar en die eisers stig egter 'n bestuursmaatskappy, Farmco, waarin die eisers 'n aandeel van 50 % kry en wat die grond van die eisers huur.
Farmco word deur 'n raad bestuur wat albei partye verteenwoordig. Terselfdertyd word werkers vir bestuursposisies opgelei. Mnr. Alwyn van Graan van die Mpumalanga Rietkwekersvereniging het dié plan by Agri Mpumalanga se kongres verduidelik. Hy sê dit hou verskeie voordele. "TSB beskou dit as 'n goeie transaksie omdat hy deel is van die grootste grondeise-oordrag tot dusver en hy verseker terselfdertyd volhoubare lewering aan sy meulens."
Hy sê Farmco sal die handves vir swart bemagtiging (SEB) in die landbou en SEB-kodes vir goeie praktyk volg en sekere eisers sal opleiding by 'n landboukollege ontvang. 'n Opleidingsprogram van vyf jaar word beoog om plaasbestuurders op te lei en die eisers is betrokke by die ontwerp en goedkeuring van opleidingsprogramme.
Landbouweekblad, 29 Junie 2007