'n Inisiatief om tariewe in die inmaakvrugte-bedryf af te breek en 'n meer gelyke platform vir internasionale mededinging te skep, is deur die adjunk-minister van handel en nywerheid in die Wes-Kaap, dr. Rob Davies, op Montagu van stapel gestuur.
Die departement het R8,4 miloen hiervoor bewillig. Die bedryf sal met tyd en die aanwending van hulpbronne dieselfde bedrag voorsien.
Volgens Davies produseer Suid-Afrika van die beste ingemaakte vrugte ter wêreld, maar die bedryf het die afgelope paar jaar markaandeel verloor. Die plaaslike industrie kry sedert 2004 die wind van voor na die wêreldprys begin sak het. Groot inmaakaanlegte soos Del Monte funksioneer tans teen 'n derde van hul kapasiteit.
'n Nasionale produktiwiteitsinstituut studie het getoon dit is sinvol vir die bedryf se belanghebbers om saam te staan en as 'n eenheid die probleme aan te spreek.
Die aksieplan wat uit die inisiatief voortspruit stel homself ten doel om vier sleutelareas - bemarking, marktoegang, kwessies rondom insetkoste, die reguleringsomgewing, mededing en samewerking en transformasie, volhoubaarheid van werksgeleenthede en sosiale verantwoordelikheid - aan te spreek. Onder elkeen van dié bene word 'n aantal projekte beplan.
Die sagtevrugte-inmaakbedryf het 'n jaarlikse omset van R1,5 miljard en is hoofsaaklik in die Wes-Kaap gebaseer. Sowat 15 000 mense werk in fabrieke in dié sektor. Daar is ook meer as 1000 produsente, met hul plaaswerkers, in die bedry. Sowat 95% van die produkte gaan na die uitvoermark.
Mnr. Cobus Dowry, provinsiale minister van landbou, het gesê die ooreenkoms is toegevoegde waarde in die platteland.
"Dit sal vir die platteland se ekonomie 'n inspuiting wees en ook vir die sosiale welstand van die gebied en die provinsie."
Ook boere het die inisiatief verwelkom en die departement van handel en nywerheid geloof vir hul betrokkenheid.
"Dit is reg dat die regering hierby betrokke is. Die knoop is die wisselkoers - en daaraan kan die boer en die regering niks doen nie. Dit bepaal hoe betalend die storie is.
"Die ander knoop is tariewe. Dit is mooi dat die minister van handel en nywerheid inkom en primêre landbou - daar waar die werk geskep word - help om tariewe af te breek. Ons moet die markte vry kan binnegaan," het mnr. Bertie van der Merwe, 'n vrugte- en melkboer van Worcester, gesê. "Dit moet egter ook uitgebrei word na ander bedrywe. Ons gaan nie groei as ons markte oop is vir almal nie, maar ons kan nie in ander markte kompeteer nie. Die Regering moet dit oplos."
26 Junie 2007