Landbou
Deel staatsgrond uit, sê Zille
Deur AMELIA GENIS

Die hoeveelheid grond wat die staat besit en hoe dit benut behoort te word, is een van daardie kanniedood-onderwerpe. Die Minister van Landbou en Grondsake het onlangs eers 'n oudit van staatsgrond van stapel gestuur, maar die DA sê "verkoop en verdeel".

Die Demokratiese Alliansie glo eienaarskap van grond moet uitgebrei word, eerder as bloot verskuif word van een rasgroep na 'n ander. Die beste manier om dit te doen, is om grond wat die staat in stedelike gebiede en op die platteland besit, aan grondloses oor te dra, skryf me. Helen Zille, leier van die Demokratiese Alliansie (DA), aan die einde van Junie in South Africa Today, haar weeklikse nuusbrief.

"Die Suid-Afrikaanse staat is die eienaar van groot stukke grond wat oor jare deur verskillende koloniale, unie- en republiek-regerings verkry is. Die grond is nou onderbenut, onproduktief en daar word nie veel daaraan bestee nie. Volgens die akteregister behoort die meeste van dié grond aan die departemente van Grondsake en Openbare Werke."

Volgens Zille is dit nie bekend hoeveel grond die staat besit nie, maar die vermoede bestaan dit 'n groter proporsie is as enige ander land met 'n markgedrewe ekonomie. "Die ongebruikte grond is nie 'dooie kapitaal' nie; dit kos baie om onproduktiewe grond in stand te hou."

Zille sê in hul soektog na grond vir laekoste-behuising het die DA onlangs 'n oudit van staatsgrond naby Kaapstad gedoen en gevind dat daar by Wingfield, Youngsfield en Ysterplaat 269 hektaar "bruikbare" staatsgrond is waarop meer as 12 000 huise gebou kan word. Dieselfde situasie word in landelike gebiede gevind, skryf Zille. "Die staat besit baie grond op die platteland, maar verkies om hoogs produktiewe private plase te bekom vir herverdeling. Dis 'n moeisame proses en word vererger deurdat grondoordrag van private eienaarskap na kollektiewe liggame plaasvind.

"Dis naïef om te dink dat hoë-waarde grond wat nou doeltreffend benut word en uitvoerprodukte vir 'n hoogs mededingende internasionale mark produseer, net eenvoudig na groepskemas met onvanpaste en onproduktiewe bestuurstelsels oorgedra kan word. In plaas daarvan dat die Regering bestaande kapasiteit vernietig, kan hy eerder landbouproduksie uitbrei deur dié 'dooie kapitaal' te benut."

Zille skryf verder dat die "ingewikkelde versameling beperkende vorme van apartheidsbesitreg" ingevolge waarvan die staat nog kommunale grond besit, ontneem inwoners van die gebiede die reg om die grond waarop hulle woon, te gebruik soos hulle wil. Wat nodig is, is 'n enkele omvattende stuk wetgewing wat individuele grondeienaarskap moontlik maak in gebiede waar tradisionele leiers te veel mag oor grondgebruik het.

Daar is nie sekerheid oor die hoeveelheid grond wat die staat besit nie. Hoewel me. Lulama Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, aldus Zille se nuusbrief verlede jaar gesê het die staat besit sowat 11,5 miljoen hektaar, het sy onlangs 'n oudit van staatsgrond van stapel gestuur. Xingwana het op 20 Junie in die Nasionale Vergadering gesê die grondoudit wat die landmeter-generaal se personeel in die verskillende provinsies doen, het onder meer ten doel om 'n "duidelike en volledige" prentjie van alle staatsgrond te gee.

Xingwana het bygevoeg die indruk wat bestaan dat daar 'n onbeperkte hoeveelheid staatsgrond is wat die behoeftes van grondlose mense sal bevredig, is nie waar nie. Toe het sy ook gesê die "plus-minus 5%" grond wat die Departement van Grondsake en verskeie ander verwante departemente besit, sal nie genoeg wees om aan die vereistes van die meerderheid Suid-Afrikaners te voldoen nie. "Ons sal almal 'n bydrae tot grondhervorming moet maak. Ons sal van die grond waartoe die bevoorregte groepe sedert 1652 toegang gehad het, moet vat."

3 Julie 2007