Landbou
Grondhervorming eindig nie ná 2014 - Lulu
NICO VAN BURICK

Me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, het klaarblyklik 'n paar nuwe skote uit die heup geskiet toe sy in die parlement laat blyk het dat grondhervorming nie sal eindig voor die wanbalans tussen swart en wit grondbesit herstel is nie.

Sy het in die Parlement bevestig dat grondhervorming in Suid-Afrika sal voortduur tot grondeienaarskap eendag die demografie van die land volgens ras en geslag weerspieël.

Sy het in antwoord op 'n parlementêre vraag deur mnr. Maans Nel, DA-woordvoerder vir grondsake, gesê grondhervorming is nie verby as grondeise afgehandel is en die mikpunt van 30 % herverdeling teen 2014 bereik is nie. Sy sê dit sal steeds nodig wees om te verbeter op die verhouding van 70 % landbougrond in die besit van wittes teenoor 30 % in swart besit.

"Dít is nie 'n ware weergawe van die werklikheid nie," het Nel gesê. Hy sê sy vergeet dat 18 miljoen ha reeds in kommunale gebiede in voormalige tuislande en deur die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingstrust in swart besit is. As die mikpunt van 30 % (25 miljoen ha) bereik word, sal die regte verdeling 43 % in swart en 57 % in wit besit wees.

Nel sê dit is kommerwekkend dat die Regering se grondhervormingpogings nie noodwendig fokus op die verbetering van die produksievermoë van grond nie. Voedselsekuriteit word tans deur kommersiële boere verseker. "Dit moet nie in gevaar gestel word nie. Indien dit wel gebeur, sal die mees kwesbare mense eerste getref word."

Agri SA sê dit is 'n nuwe denkrigting wat nog nêrens in onderhandelings ter sprake was nie en glad nie aanvaarbaar is nie. "President (Thabo) Mbeki het dit duidelik gestel dat 'n lewensvatbare landbou vir die land belangrik is. As 'n mens beleid net op getalle wil formuleer en 'n wanbalans tussen produksie- en maatskaplike vereistes skep, bring dit die volhoubaarheid van die landbou in die gedrang," het mnr. Lourie Bosman, voorsitter van Agri SA, gesê.

Die TLU SA sê dit is uiters onverantwoordelik en jammer dat die minister wesentlike beleidsveranderinge aankondig sonder dat enige navorsing gedoen is om die haalbaarheid daarvan te staaf, sonder impakstudies en sonder om dit met belanghebbendes te bespreek. Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder, sê dit is hartseer dat politieke ideologie so hard ten koste van ekonomiese beginsels gedryf word.

"Suid-Afrika wil 'n wêreldspeler wees, maar hy wil nie die spelreëls nakom nie. Wêreldwyd word boerdery-eenhede groter ter wille van ekonomiese lewensvatbaarheid, maar hieraan steur die Regering hom nie." Hy sê daar is al genoem dat die Regering, saam met 20 000 wit boere wat hy meen sal oorbly, 65 000 swart kommersiële boere wil vestig. "Dit is 85 000 kommersiële boere wat op 'n ekonomie van skaal nie volhoubaar sal wees nie."

Landbouweekblad, 13 Julie 2007