Landbou
Boere gelooi oor 'hervorming'
Deur NICO VAN BURICK

Week ná week, op geleenthede waar grond oorhandig word, word kommersiële boere voorgehou as die stok in die wiel wat die afhandeling van grondeise vertraag. Week ná week, op geleenthede waar grond oorhandig word, word kommersiële boere voorgehou as die stok in die wiel wat die afhandeling van grondeise vertraag. Hulle word beskuldig van grondafsettings en gedreig met onteiening as hulle eise betwis.

Op 'n onlangse geleentheid in Noordwes is boere wat eise betwis, opnuut met onteiening gedreig. "Ons is siek en sat vir diegene wat wegkruipertjie speel. Ons onderhandel net vir ses maande en dan sal ons onteien, 'finish' en klaar," het me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, gesê.

Sy het ook na plaasafsettings verwys en gesê dit is jammer dat in hierdie demokratiese era mense dikwels nog dieselfde toestande as gedurende apartheid ervaar.

"Hulle word van plase afgesit en van werksgeleenthede weerhou omdat hulle nou grondeisers is, hulle word van die reg weerhou om hul oorledenes op die grond van hul voorvaders te begrawe en hulle word verhinder om grafte te besoek omdat hulle eisers is. Ons veroordeel hierdie houding en wil ál daardie grondeienaars wat in hierdie rigting neig, vra om hulle daarvan te weerhou."

Mnr. Lourie Bosman, voorsitter van Agri SA, sê dit is jammer dat hierdie soort veralgemenings en politieke retoriek op grondvlak gebruik word om haat en spanning aan te blaas.

"Daar is geen gronde daarvoor nie en dra geensins by tot oplossings en versoening nie. Op geleenthede waar grond oorhandig word, behoort juis 'n optimistiese boodskap oorgedra te word."

Met verwysing na 'n onlangse beslissing deur die Grondwethof ten gunste van 'n aantal huurarbeiders in Limpopo (die Popela-eis) het Xingwana gesê dit is 'n duidelike boodskap aan daardie grondeienaars wat wegkruipertjie speel met die Regering deur die geldigheid van eise deur huurarbeiders te betwis. "Die speletjie is verby."

Die hof het 'n wyer interpretasie aan die term "gemeenskap" en die woorde "as gevolg van rassediskriminerende wette of praktyke" verleen. Dit beteken dat die staat nie noodwendig regstreeks by die verlies van eisers se regte betrokke hoef te gewees het nie omdat grondeienaars as "agente vir die staat se rassistiese praktyke" gesien word.

Tydens die oorhandiging van grond aan die Moletele-gemeenskap by Hoedspruit het Xingwana ook na die Popela-eis verwys en gesê boere wat hulle tot die hof gewend het, word aangemoedig om terug te kom en te kom praat. "Hulle moet dit so gou moontlik doen, anders laat hulle ons met geen ander keuse as om te onteien nie," het sy gesê.

Xingwana sê restitusie in Suid-Afrika is soos 'n bewegende trein sonder remme of 'n trurat. "Diegene wat in die pad van die trein staan, doen dit met groot risiko."

12 Julie 2007