Die Sandveld se gemiddelde temperatuur het die afgelope 50 jaar met sowat een graad Celsius gestyg, blyk uit inligting oor die temperatuur van dié tyd. Dit blyk uit rekenaarmodelle dat die gebied in die somer minder reën in die toekoms kan verwag en dat die reënval in die winter moontlik meer donderstorms kan wees.
Dr. Emma Archer, 'n klimatoloog verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, het op die Sandveldse aartappelwerkgroep se inligtingsdag op Lambertsbaai gesê ses verskillende modelle van vyf lande is gebruik om voorspellings tot die jaar 2100 te maak. Daaruit blyk die volgende:
Vyf van die ses modelle toon 'n verminderde reënval vir April in die toekoms.
Vyf uit die ses modelle toon 'n verlaging in Augustus se reënval.
Warmer minimum én maksimum gemiddelde maandelikse temperature reg deur die jaar kan verwag word. Die verskille neem toe namate weg van die kus in die binneland van die Sandveld inbeweeg word.
Desember tot Januarie se temperature kan met tot soveel as 2,5 °C tot 3 °C ná die jaar 2100 styg. Februarie se temperatuur kan heelwat warmer wees. Ook dié maande se minimum temperatuur sal hoër wees.
Al die modelle toon dat grondwater waarskynlik stadiger sal aanvul onder natuurlike omstandighede as nou. 'n Jaarlikse aanvulling van 5 % tot 10 % is meestal nodig vir normale grondwatervlakke.
Minder somerreën kan voorkom en meer donderstorms in die winter.
Daar sal moontlik na kultivars van gewasse gekyk moet word wat beter sal aard in warmer weer anders as om paniekerige skuiwe te probeer maak, sê Archer.
Daar moet nou reeds besin word oor die uitwerking van 'n laer reënval, warmer temperature en minder beskikbare grondwater vir die toekoms, meen sy.
Landbouweekblad, 27 Julie 2007