Die Europese Unie (EU) se kommissaris van landbou en landelike ontwikkeling sê daar gaan voorgestel word om die beleid te skrap wat boere verplig om 10 % van hul landerye te laat oorlê.
Dit volg op onlangse voorspellings dat die internasionale graanvoorraad in die volgende jaar 'n laagtepunt in 28 jaar gaan bereik.
Kommer word ook uitgespreek oor die groeiende vraag na graan vir die vervaardiging van biobrandstof wat groter eise op die graanvoorraad plaas.
Graanpryse in die EU is besonder hoog en owerhede meen hulle moet optree om die situasie te beredder. Die skrapping van die beleid oor oorlêlande sal ongeveer 3,8 miljoen hektaar bewerkbare grond vir graanverbouing in die volgende jaar beskikbaar maak. Dit impliseer dat ongeveer 17 miljoen ton ekstra graan verbou behoort te word.
Volgens die Chicago graanbeurs se bedryfsnuusblad is die beleid oor oorlêlande ingestel ná die verbouing van surplusgraan in die seisoen 1988/'89. Dit het sedertdien gegeld.
Landbouweekblad, 27 Julie 2007