Landbou
G'n grond vir buitelanders
JEAN-MARIE DE WAAL

Die finale verslag oor buitelandse grondbesit maak voorstelle wat tot méér burokrasie sal lei en stuur gevaarligte vir buitelandse beleggers, sê mnr. Maans Nel, die DA se woordvoerder oor grondhervorming.

'n Groep kenners se aanbevelings is verlede week aan die Kabinet tydens 'n kabinetsvergadering in Pretoria oorhandig — net voor die Kabinet se belangrike lekgotla in Julie.

Voorstelle sluit in 'n moratorium op buitelandse grondbesit en selfs die verhuring van grond op lang termyn pleks van die verkoop daarvan. Verder word verpligte openbaring van 'n buitelandse koper se besonderhede vereis. Waar grond byvoorbeeld vir grondhervorming of restitusie geoormerk word, word spesiale goedkeuring deur die minister voorgestel voordat grond aan buitelanders verkoop kan word.

Mnr. Themba Maseko, regeringswoordvoerder, het ná die vergadering glo gesê die voorstelle sal oorweeg word wanneer die verslag eersdaags vir openbare kommentaar beskikbaar gestel word.

Maseko gee toe die verslag gee nie breedvoerige aandag aan die aantal grond wat tans deur buitelanders besit word nie. Die groep kenners het glo gemeen dit is belangriker om kwessies van beleid en beginsel eerste af te handel.

Navorsing wys egter 'n baie klein deel van die eiendomme in Suid-Afrika word deur buitelanders opgeraap, sê Nel.

Adv. Paul Hoffman, direkteur van die sentrum vir grondwetlike regte (SGR) by die FW de Klerk-stigting, sê as die staat van mening is dat buitelandse kopers grondpryse opjaag en dus die grondhervormingsproses vertraag, is dit belangrik om te kyk hoeveel grond deur buitelanders besit word. Versuim om hieroor te rapporteer, ondermyn die tersaaklikheid van die verslag.

Dit is egter nie ongewoon vir regerings om strategiese sektore en hulpbronne in 'n ekonomie te beskerm nie.

"Verpligte deursigtigheid rondom die verkoop van grond aan buitelanders is kwalik iets om oor bekommerd te wees. En sou dit die daarstelling van 'n register vir grondbesit aanmoedig, word só 'n stap verwelkom."

'n Moratorium op buitelandse grondbesit of administratiewe prosesse wat die mark vir grondbesit versteur, is egter ongewens. Kopers wat uit die mark gehou word, bring die markwaarde van grond in gedrang, waarsku Hoffman.

Landboubweekblad, 3 Augustus 2007