Belanghebbendes in die landbou, ongeag of hulle by die TLU SA betrokke is of nie, het in Pretoria byeengekom om die TLU SA se werksdokument Landboustrategie vir Volhoubaarheid te verfyn.
Met dié strategie en beleidstuk poog die TLU SA om vanuit 'n ekonomiese oogpunt by antwoorde uit te kom oor hoe die landbou in Suid-Afrika gerig behoort te word tot beste voordeel van almal.
Mnr. Paul van der Walt, voorsitter van die organisasie, het die strategie as 'n mylpaal in die landbou bestempel wat verder geneem moet word. Hy sê soos kanker op 'n punt begin en versprei om 'n mens se liggaam te vergiftig, is Zimbabwe 'n kanker wat besig is om die hele streek te vergiftig. "Die mense in Limpopo word op die oomblik aangetas. As ons nie daarin slaag om ekonomiese beginsels in die land te vestig nie, sal die kanker in die hele land vatplek kry."
Hy sê die TLU SA probeer die Regering wys om sy verantwoordelikheid na te kom om dít te keer wat almal sien gebeur. "Ons het oor 'n lang tyd daaroor gewaarsku, maar almal sê altyd: 'Wat stel julle voor?'."
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder, sê die strategie is 'n poging om op suiwer ekonomiese beginsels 'n plan vir die landbou op te stel. "Dit het sy oorsprong gehad by die Regering se nasionale grondberaad toe ons gehoor word met hoeveel emosie-belaaide politieke retoriek nie-regeringsliggame as pionne ingespan word."
Die strategie bestaan uit 'n inleidende deel, 'n omgewingsanalise, aspekte wat in ag geneem moet word vir die suksesvolle voortbestaan van die landbou en 'n landboubeleid. Dit is veral die landboubeleid wat bespreek en verfyn is. Die beleid sluit in grondwetlike regte, ekonomiese beleid, infrastruktuur, gebiedsveiligheid, navorsing, fitosanitêre maatreëls, regeringsbeleid, voedselsekerheid en veiligheid, boerderyvernuf, bemarking en finansiering.
Die lywige werksdokument sal nou vertaal en nasionaal en internasionaal versprei word. Die Regering beoog om sy bestaande sektorplan vir die landbou oor die volgende ses maande te hersien waarna die presidensiële landbouwerkgroep vir 'n dag lank saam met President Thabo Mbeki daardeur sal werk.
Van Zyl sê met hul eie bygewerkte dokument sal hulle graag 'n gunstige invloed wil uitoefen op die hersiening van die sektorplan.
Landboubweekblad, 3 Augustus 2007