Landbou
KZN-munisipaliteite ignoreer wette
Deur ISABEL STOLTZ

Die georganiseerde landbou in KwaZulu-Natal is só gefrustreerd met die implementering van die munisipale grondbelastingsproses dat regsmening daaroor ingewin word.

Mnr. Robin Barnsley, voorsitter van Kwanalu, meen soos dit nou gedoen word, hou die proses " 'n grondwetlike uitdaging" in.

Munisipaliteite pas dit lukraak toe. "Terwyl sommige munisipaliteite bereid is om redelikheid te laat seëvier, het van die munisipaliteite duidelik 'n eie agenda. Dít blyk uit waardasies van tot R25 000/ha op plekke," het hy gesê.

"En dan beskuldig die Regering boere daarvan dat hulle plaaspryse opjaag."

Barnsley meen die nodige leierskap van die Minister van Provinsiale en Plaaslike Regering ontbreek om rigting aan die proses te gee. "Munisipaliteite én grondeienaars word hoog en droog gelos om die situasie te beredder."

Hy sê vereistes, soos waardasies en konsultasie met die gemeenskap, los nie die probleem op nie. Dit is omdat dit gebrekkig — of glad nie — toegepas word.

"Die enigste oplossing is riglyne wat 'n eenvormige en regverdige toepassing van die stelsel landwyd afdwing."

Me. Marie Helm, bestuurder van die TLU SA Noord, sê die riglyne is reeds daar, maar dit word verkeerd toegepas.

"Munisipaliteite steur hulle eenvoudig nie daaraan nie en dít is die probleem."

Gemeenskappe moet betrokke raak by hul plaaslike strukture sodat hulle deur die komitees inspraak kan kry in hoe hul sake bestuur word.

Die riglyne kan gebruik word om munisipaliteite te dwing om die proses reg aan te pak en toe te pas, sê sy.

" 'n Sekere persentasie beswaar teen waardasies sou byvoorbeeld 'n aanduiding wees dat die waardasierol ongeldig is en die proses van voor af moet begin."

Die TLU SA het 'n interne dokument opgestel om lede in hierdie opsig te bemagtig.

Die dokument sit die verskillende stappe uiteen wat gevolg moet word om munisipaliteite op terme te plaas en uiteindelik belasting te weerhou totdat hulle aan die riglyne voldoen.

Volgens mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU SA, is dit gemik op krisisbestuur met die oog daarop dat die proses op die lang duur heeltemal anders benader word.

"Ons voorsien dat die stelsel uiteindelik in duie gaan stort, want die Regering het nie die vermoë om dit te bestuur nie."

Uiteensettings van munisipale finansiële bestuur kan by www.treasury.gov.za gekry word en by www.dplg.gov.za is riglyne oor eiendomsbelasting, hoe dit geïmplementeer en aan watter vereistes voldoen moet word.

Landbouweekblad, 17 Augustus 2007