Die Grondeisekommissie het die Tesourie gevra om die R1 miljard wat hy in die vorige boekjaar moes teruggee, wéér aan hom toe te ken. Die kommissie wil met dié geld ondersteuning aan begunstigdes bied.
Die kommissie het sy jaarverslag tot 31 Maart 2007 aan die parlementêre portefeuljekomitee vir landbou en grondsake voorgelê.
Mnr. Mashile Mokono, Limpopo se grondeisekommissaris, sê die R1 miljard moes Oktober vanjaar teruggegee word aangesien stelsels om dit te beheer, nie in werking was nie. Ten opsigte van die R2,3 miljard wat wel bestee is, is egter seker gemaak dat dit behoorlik gedoen kan word.
Mnr. David Dlali, ANC-lid, sê die komitee het danksy die R2,3 miljard eintlik nie rede om te kla oor probleme wat intree ná begunstigdes op grond gevestig is nie.
Mokono het egter komiteelede herinner dat die kommissie, ingevolge die Wet op die Herstel van Grondregte, geen mandaat of wetlike raamwerk het om begunstigdes te ondersteun ná grond oorgedra is nie.
Dlali sê hy hoor al jare lank van dieselfde probleme, maar sien geen daadwerklike pogings om oplossings te vind nie.
Volgens hom moet die Parlement resolusies aanvaar as die probleme met tradisionele leiers te groot raak. Hy meen die komitee, lede van die Ingonyama-trust, Zoeloekoning Goodwill Zwelithini en sy volgelinge moet met mekaar begin praat. "Daar kan nie toegelaat word dat dié situasie voortsleep nie."
Die spertyd vir die afhandeling van grondeise 31 Maart 2008 kom al hoe nader.
Dit wil lyk asof lede van die Ingonyama-trust, ingevolge waarvan sowat drie miljoen ha in KwaZulu-Natal onder die trusteeskap van die Zoeloekoning is, eise van die kommissie deurgaans onder meer bevraagteken en gevolglik vordering stuit.
Landbouweekblad, 17 Augustus 2007