Landbou
'Reik uit met grondhervorming'


Premier Beatrice Marshoff van die Vrystaat sê die algehele samelewing kan nie aan die uitdagings van swart ekonomiese bemagtiging en grondhervorming ontkom nie. Die uitreikproses is baie belangrik om harmonie in die land te bewerkstellig.

Marshoff het in 'n versoenende toespraak op die kongres van Vrystaat Landbou in Bloemfontein die samewerking van die landelike gemeenskappe gevra om sake wat nog skort, reg te stel.

Met verwysing na die probleme wat veral die grensboere in die Oos-Vrystaat ondervind, het sy gesê daar sal weer gekyk moet word om boere se weidingsregte te beskerm. Sy het ook erns met die beveiliging van plaasboere. Sy het alle hulpbronne tot haar regering se beskikking, soos die polisiediens, aangebied.

Sy het die landbou beroep om nóg beter maniere van samewerking te vind om verhoudinge tussen die regering en boere te verbeter en ook om die provinsie se landbou weer sy regmatige plek in die ekonomie te laat inneem.

Met verwysing na Vrystaat Landbou se regsaksie teen die Regering oor sy beweerde versaking van die landelike gemeenskappe aan die Lesothogrens, het sy haar op mnr. Louw Steytler, voorsitter van Vrystaat Landbou, beroep "om nie die regering te sterk aan te spreek nie".

"Moenie die aangeleentheid in die hof laat draai nie, aangesien Vrystaat Landbou se prokureurs reeds te veel geld daaruit verdien het," het sy skertsend opgemerk. Sy het gevra dat die strydende partye weer met mekaar moet praat om 'n goue middeweg en buurskap te vind.

Premier Beatrice Marshoff van die Vrystaat sê mnr. Louw Steytler in sy hoedanigheid as voorsitter van Vrystaat Landbou die stryd aan tydens 'n seremoniële armdruksessie op Vrystaat Landbou se kongresdinee. Vir dié geleentheid het mnr. Casca Mokitlane (agter), LUR vir landbou in die provinsie, sy steun aan sy premier toegesê.

Landbouweekblad, 17 Augustus 2007