Landbou
Grondeise: Vals verklarings?
Deur SANDRA HARDING

Die vermoede bestaan dat verskeie eisers vals verklarings afgelê het tydens die registrasie van grondeise.

Mnr. Dries Joubert, voorsitter van die TLU SA Noord, sê dat die tyd nou vinnig ryp raak om met meer aandag te kyk na die registrasie van eise wat die publikasie van grondeise vooraf gegaan het. Die laaste dag waarop eise geregistreer kon word, was 31 Desember 1998.

Joubert sê die vermoede bestaan dat verskeie eisers vals verklarings afgelê het tydens die registrasie van eise. Dit is waarskynlik een van die gevolgtrekkings waartoe gekom kan word veral in die lig dat daar soms tot drie verskillende eise op een eiendom geregistreer is. Verskeie gebiede waar grondeise in die Staatkoerant gepubliseer was, is reeds in 'n gevorderde stadium met navorsing om die geldigheid van die eise te bepaal. Soos wat feite na vore kom, word die vermoede bevestig, in meeste gevalle, dat vals verklarings tydens die registrasie van eise afgelê is.

Volgens Joubert behoort regsimplikasies in twee gedeeltes ondersoek word, eerstens eienaarsgrond wat grond aanbied nadat die eise in die Staatskoerant gepubliseer was. Die vraag is of die eienaars nie onder vals voorwendsels hul grond aangebied het nie? Sou hulle die grond aangebied het as daar nie 'n eis op die grond in die Staatskoerant gepubliseer was nie? Wat sou die regsimplikasies wees indien bevind word dat die eisers vals verklarings afgelê het, veral waar daar meer as een eis op dieselfde grond is of waar die geldigheid van die eis nog steeds nie bepaal is nie?

Tweedens wat die regsimplikasies sal wees aangesien die Grondeisekommissie met al die mag, gesag, hulpbronne en geld as ondersteuning, eise publiseer wat skynbaar op vals verklarings gebaseer is?

Joubert sê die tyd het dalk aangebreek dat inktoetse op die oorspronklike registrasie-van-eis vorms gedoen word. Hoewel dit nie betwyfel word dat daar wel enkele geldige grondeise gepubliseer is nie, is daar min twyfel dat 'n groot aantal eise nie die toets van deeglike ondersoek sal deurstaan nie.

Joubert sê dat lede van die TLU SA nie deur die publikasie van eise geïntimideer moet word nie. Dit is nou, meer as ooit te vore, nodig dat lede kalm moet bly en die reg sy gang laat gaan.

10 Augustus 2007