Landbou
Blink tyd wag vir koringboere
Deur AINSLEY MOOS

'n Rooskleurige tydperk lê voor vir sommige koringboere nadat die koringprys die hoogte in geskiet het.

Mnr. Harm du Plessis, handelaar by Unigrain op Randfontein, sê 'n aantal internasionale faktore het bygedra tot die gunstige prysstygings. Volgens beskikbare inligting is die huidige koringprys van ongeveer R3 100 per ton nog nie voorheen bereik nie. Die redes vir die goeie prys sluit in die hoë internasionale koringprys wat aangevuur is deur voorrade wat op 'n historiese laagtepunt is en verbruik wat steeds toeneem.

Du Plessis sê 'n verdere faktor is dat internasionale skeepsvragpryse styg, wat die bedrag verhoog waarteen koring ingevoer word.

Hy sê afgesien daarvan dat die Kaapse koringoes "baie mooi" gaan lyk, gaan die land steeds ten minste 1 miljoen ton koring moet invoer. As gevolg van 'n groter vraag na koring in die buiteland kan Suid-Afrika moontlik sukkel om sy volle invoerbehoefte van die tradisionele uitvoerlande, soos Argentinië, te kry. Hy sê alternatiewe uitvoerlande van koring sal gesoek moet word. Koringboere in die Vrystaat en Mpumalanga gaan waarskynlik nie so sterk voordeel trek uit die hoër koringpryse soos hul Wes-Kaapse eweknieë nie omdat 'n gebrek aan grondvog met planttyd en heelwat laer pryse met planttyd aanplantings in dié dele van die land belemmer het.

Landbouweekblad, 24 Augustus 2007