Landbou
Grondsake: R13 miljoen weg?
Deur AINSLEY MOOS

Wowat R13 miljoen het moontlik in een geldjaar uit die Department van Grondsake se koffers verdwyn weens diefstal of bedrog, blyk uit die jongste verslag van die Openbare Dienstekommssie.

Dié inligting is op 'n nuuskonferensie in Pretoria bekend gemaak. Luidens die verslag het die totale finansiële wanadministrasie in alle nasionale en provinsiale departemente in die geldjaar 2005-2006 R45,649 miljoen beloop. Van dié bedrag was die Departement van Grondsake verantwoordelik vir sowat R20 miljoen. Die Departement van Grondsake se bestuur kan volgens die verslag nie rekenskap van dié geld gee nie.

Die kommissie meld dat diefstal en bedrog betrokke was by 65 % van alle sake wat aangemeld is. Dit beteken dat sowat R13 miljoen op dié wyse verdwyn het. Hoewel geld in sommige departemente herwin is, het dit nie by Grondsake gebeur nie.

Geld is ook verloor vanweë wanadministrasie en ongemagtigde, onregmatige en vrugtelose besteding, maar dit is aansienlik minder as die verliese weens diefstal en bedrog.

Prof. Stan Sangweni, voorsitter van die kommissie, sê waar 'n departement geld verloor as gevolg van finansiële wanadministrasie, deur byvoorbeeld diefstal, bedrog, korrupsie of wanbestuur, kan die departement in 'n posisie beland waar hy nie meer sy werk kan doen nie. Dit kan in die toekoms 'n uitwerking op die beskikbare geld hê.

Altesaam 513 sake is in die jongste verslagtydperk aangemeld teenoor 771 sake in 2004/2005.

Mnr. Glen Thomas, direkteur-generaal van die Departement van Grondsake, wou teen druktyd nie kommentaar op die kommissie se bevindings lewer nie.

Landbouweekblad, 24 Augustus 2007