Toe pres. Thabo Mbeki aan mnr. Japie Grobler, die destydse voorsitter van Agri SA, gevra het of hy aan die voorpunt van swart ekonomiese bemagtiging staan, het Grobler geantwoord: Indien die winsgewendheid van die landbou só swak is vir diegene wat reeds gevestig is, hy nie met 'n oop gemoed kans sien om mense sonder kennis en 'n kapitale agterstand suksesvol in die landbou te vestig nie.
Dié gebeure is deur mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, geskets op Agri Oos-Kaap se kongres. 'n Beskrywingspunt is voorgehou dat die kongres sy deelname aan die strategiese plan vir landbou moet heroorweeg weens die nie-nakoming daarvan deur die Regering.
Volgens Van der Merwe was Mbeki se antwoord destyds "dat indien daar nie in geslaag word om die aangesig van die landbou te verander nie, daar nie politieke stabiliteit sal wees om die land ordelik te regeer nie." Dít was die aanloop tot die sektorplan vir landbou.
Van der Merwe meen die grootste uitdaging vir die Suid-Afrikaanse landbou is daarin geleë om die proses van globalisering, 'n vrye mark en transformasie te balanseer. "Hoewel daar inderdaad, wat sekere aspekte betref, kritiek teen die plan uitgespreek kan word, stel dit nietemin die uitdagings waaraan voldoen moet word, binne konteks."
Hy het toegegee dat onsekerheid verlammend op sommige van die prosesse inwerk en in baie gevalle mense selfs onbetrokke maak. "Dit moet egter besef word dat daar nie eksklusief te werk gegaan kan word nie. Die belange van die gemeenskap as geheel moet in ag geneem word. Transformasie is boonop 'n proses wat hoofsaaklik op grondvlak neerslag vind en derhalwe sal boere meer kundigheid en betrokkenheid moet hê. Daar is nog te veel boere wat dink iemand anders gaan die kole uit die vuur krap."
Van der Merwe het gesê dit is jammer dat die landbou homself dikwels in 'n hoek verf en nie goed genoeg in die openbare oog bemark word nie. "As ons nie leierskap en visie aan die dag lê nie, staan landbou gevaar om gemarginaliseer te word."
Hy het gevra dat vertroue gebou sal moet word en nuwe netwerke gevestig word. "Ons moet bereid wees om in Afrika met langer tydskale ook vrede te maak en nie geduld te verloor om inklusiwiteit na te strewe nie," het hy gevra.
21 Augustius 2007