Landbou
AfricaBio waag buite landbou
Deur NICO VAN BURICK

AfricaBio, die organisasie van belanghebbendes wat biotegnologie in die landbou bevorder, gaan hom voortaan ook op mediese- en farmaseutiese bedrywe toespits.

Dr. David Keetch, voorsitter van AfricaBio, sê omdat die meeste omstredenheid oor biotegnologie in die landbou na vore gekom het, het die organisasie vir 'n paar jaar hoofsaaklik die fokus op die landbou laat val.

"Biotegnologie is nie net tot die landbou beperk nie - dit maak tans dramatiese vordering in die mediese en farmaseutiese bedrywe en ook in ander nywerhede. Dus was dit nodig om ons visie te verbreed ek ook dié velde in te sluit, veral mediese en nywerheidstoepassings," het Keetch in 'n onderhoud gesê ná afloop van AfricaBio se jaarvergadering in Centurion.

"Ons besef ook ons het breër verteenwoordiging nodig. Ons het tot dusver vanuit ons hoofkantoor in Pretoria gewerk en beplan nou 'n eie kantoor in Kaapstad. Ons hoop dié kantoor sal onder leiding staan van prof. Jennifer Thomson, die bekende akademikus van die Universiteit van Kaapstad." Hy sê as die geld beskikbaar is, sal 'n kantoor in Durban ook oorweeg word. AfricaBio bly nog toegewyd aan sy onderneming aan die landbou en die bevordering van 'n veilige, verantwoordelike en etiese biotegnologiesektor in Suid-Afrika.

Hy het beklemtoon AfricaBio staan by die boodskap dat geneties gemodifiseerde (GM) voedsel net so veilig as konvensionele kossoorte is, dat biotekgebruik behoorlik gereguleer moet word en dat dit ekonomiese voordele vir kleinboere inhou.

Keetch het ook verwys na AfricaBio se netwerkaksie in baie wêreldlande, en by uitstek in Afrika-streke. Nog internasionale vennootskappe is en word nog gesluit en versterk met eendersdenkende wêreldorganisasies.

Oor Suid-Afrika het Keetch gesê oorregulering van biotegnologie kan probleme skep, maar daar is tegelyk 'n behoefte vir aktiewe en gekoördineerde optrede om aanvalle op die Suid-Afrikaanse reguleringstelsel te ondervang. Ander behoeftes is om die tegnologie aan sleutelbesluitnemers en politici te demonstreer, en om 'n derdeparty-woordvoerder te onwikkel wat oor biotegnologie kan kommunikeer.

23 Augustus 2007