Teeldoelwitte in alle beesboerderye moet te alle tye gemik wees op wins. Daarom moet alle moontlike hulpmiddele ingespan word, waaronder BLUP sekerlik die belangrikste is, sê dr. Japie van der Westhuizen van die LNR se Instituut vir Veeverbetering op Irene.
Hy het op 'n inligtingsdag by Elsenburg, buite Stellenbosch, gesê 'n beesteler moet presies weet wat sy doelwitte is, waarmee hy vordering kan meet en wat sy teelplanne is om die doelwitte te bereik.
Van der Westhuizen was een van die sprekers op dié dag wat deur die Wes-Kaapse vleisbeesverbeteringskomitee aangebied is. Die Landbounavorsingsraad (LNR) se beste veeverbeteringskudde is ook aangekondig. Vanjaar se wenner is mnr. Phillip de Waal van Locheim, Moorreesburg. Die finaliste was mnre. Danie van Breda van La Fleur Herefords, Hermon, Bertus Mong van BM-Herefords, Villiersdorp, en Pieter van Wyk van Dammerskloof Rooi Poenskop-stoetery, Riversdal.
Van der Westhuizen sê as 'n besluit oor die doeltreffendheid van 'n kudde geneem moet word, moet die boer 'n volledige evaluasie van alle goeie, maar ook swak punte in sy kudde of stoetery doen. Hy moet ook weet hoe sy kliëntemark lyk.
"Iets wat dikwels nie besef word nie, is dat sekere seleksiedoelwitte in 'n teelprogram dalk 'n nadelige uitwerking op ander goeie bestaande eienskappe mag hê. Dit help nie jy koop diere van 'n ander kudde vir sekere eienskappe nie en hulle benadeel die goeie eienskappe wat reeds in jou eie kudde teenwoordig is nie," het Van der Westhuizen gesê.
Die profiel van 'n doeltreffende dier is dat hy vrugbaar moet wees, kalwers met 'n ligte geboortegewig moet gee, 'n goeie groei van speen tot voerkraal moet gee en 'n nie te groot raamwerk moet hê nie. As met die regte teelprogram en meetmetode, asook die beste beskikbare diere vir sulke basiese eienskappe geselekteer word, kan wins getoon word.
Ook dr. Bobbie van der Westhuizen, navorser by dieselfde instituut, het dit beklemtoon dat BLUP die beste manier is om 'n dier geneties te selekteer. BLUP haal die omgewingsinvloede uit en gee net die genetiese waarde van 'n dier aan.
Hoewel BLUP wel manipuleerbaar is, sal 'n dier se werklike teëlwaardes na vore kom. Sonder BLUP is 'n dier se ware teëlmeriete moeilik bepaalbaar, het hy gesê.
Mnr. Willem de Waal (middel) van Locheim, Moorreesburg, is vanjaar se wenner van die LNR se Wes-Kaapse Veeverbeteringskudde. Hier is hy saam met mnre. Danie van Breda (links) van Hermon, een van die finaliste, en Hein Volgraaff van BKB, wat die kompetisie borg.
Landbouweekblad, 31 Augustus 2007