Landbou
'Prysstygings sal voortduur'
Deur NICO VAN BURICK

Die stygende neiging in die pryse van landbouprodukte en voedsel sal waarskynlik oor die korttermyn voortduur, hoewel landboumarkte normaalweg tussen Augustus en Oktober baie onstuimig is weens die begin van 'n nuwe somerproduksieseisoen.

Die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) sê in sy jongste verslag oor voedselpryse dat die mandjie voedsel wat deur hom gemonitor word in stedelike gebiede tussen Julie 2006 en Julie vanjaar met bykans 14% gestyg het. Daar is ook geen twyfel dat pryse steeds styg nie.

Van die grootste stygings was super-mieliemeel (22,1%), botter (23,1%), cheddarkaas 39,6%), boerewors (30,9%), kookolie (32%), bevrore hoender (30.1%) en varjtjops (46,5%).

'n Opname van voedselpryse in landelike gebiede is ook vir die eerste keer tussen Januarie en Julie vanjaar gedoen en toon dat pryse van die spesifieke voedselsoorte daar duurder is. Dit word toegeskryf aan onder meer vervoerkoste, kleiner winkels en gebrek aan mededinging.

Die NLBR se die stygende pryse in Suid-Afrika strook met die wêreldwye neiging. Pryse styg weens stygende energiekoste, die stygende vraag na produkte vir biobrandstof en die groter vraag na voedsel in lande in Suidoos-Asië waar mense meer welaf word.

In Suid-Afrika veroorsaak die styging in bevolkingsgetalle (aangevuur deur immigrasie) en 'n groter deel van die bevolking in 'n hoër inkomstegroep, 'n toename in die vraag na produkte soos rooivleis, eiers, brood, melk en hoender.

Faktore wat oor die volgende drie maande plaaslik 'n invloed op pryse sal hê, is onder meer die olieprys, rentekoerse, die wisselkoers en inflasie. Hoewel verwag word dat 'n biobrandstofstrategie aangekondig sal word, behoort dit nie onmiddelik 'n invloed te hê nie.

Weerpatrone soos laatryp en vroeë lentereën kan markte ook baie beïnvloed. In die algemeen word egter verwag dat graanpryse, weens plaaslike tekorte, hoog sal bly. Rooivleipryse kan weens verminderde slagtings styg en weens hoër voerkoste is daar ook opwaartse druk op die pryse van varkvleis en pluimvee.

Tekorte aan melk en sonneblomolie sal ook die pryse verder opjaag.

24 Augustus 2007