Agri-Noord-Kaap staan nie apaties teenoor nasionale doelwitte van die Regering om 'n beter en meer gebalanseerde landbousektor te skep nie, maar hy sal jaloers waak oor sy lede se belange en sterk standpunt inneem.
Mnr. Wessel van der Merwe, voorsitter van Agri-NK, het op die jaarlikse kongres in Kimberley gesê dit is uiters belangrik dat die prosesse in die landbou ekonomies volhoubaar moet wees. Die gekleurde boer wat tot die landbou toetree, moet die beste geleenthede tot sukses hê en 'n bydrae kan lewer tot die provinsie se landbou-ekonomie.
Die prosesse moet ook nie huidige kommersiële boere benadeel of hul beleggings in die landbou in gevaar stel nie. Grondhervorming is almal se verantwoordelikheid omdat almal die voordeel sal hê van 'n stabiele landboubedryf, maar dit sal onregverdig en onaanvaarbaar wees as kommersiële boere 'n deel van die rekening moet betaal. Daarom moet die nasionale tesourie die finansiële verantwoordelikheid dra.
Werkgeleenthede vir werkers moet behoue bly. Daarom moet kundige werkers ontwikkel word as voorkeurvennote van kommersiële boere. Die kommersiële landbou bied sy kundigheid onvoorwaardelik aan nuwe toetreders, want daarsonder sal hulle "vergaan in 'n woesteny van foute, ekonomiese terugslae en wanhoop".
Van der Merwe het gesê Suid-Afrika word beïnvloed deur wêreldhandel en neigings in die ontwikkelde lande. "Die Suid-Afrikaanse boer vra nie subsidies nie, maar ons vra 'n gelyke speelveld." Waar ander lande hul gesubsideerde produkte na Suid-Afrika uitvoer, waarborg gepaste invoertariewe die sukses van nuwe toetreders tot die landbou.
Tegnologie is baie belangrik vir die landbou, maar omdat tegnologie net deur hoogskundige mense benut kan word en dit hoë eise aan bestuur stel, is 'n gepaste navorsingsinstituut en lendboukollege vir die Noord-Kaap noodsaaklik om nuwe toetreders op te lei.
29 Augustus 2007