Landbou
Boere beswaard oor garsprys
Deur AMELIA GENIS

Groot ongelukkigheid heers oor SAB se prys vir moutgars en Suid-Kaapse boere meen dié brouery misbruik sy monolopie-mag.

SAB (South African Breweries Limited) se aanbod van net meer as R1 600 per ton moutgars sal vanjaar die mededingendheid van garsboere in die Suid-Kaap ernstig knou. Daar heers groot ongelukkigheid oor dié prys, veral in die lig van heersende hoë en stygende moutgars- en koringpryse wêreldwyd en die feit dat plaaslike moutgarspryse van dié pryse afgelei word.

Boere meen dat SAB, as enigste koper van moutgars in Suid-Afrika, sy monopolie-mag misbruik.

Teen druktyd was die goedkoopste invoerpariteitsprys vir gars net meer as R2 500 per ton geland in die Kaapse hawe en die Safex-prys vir lewering in Desember sowat R2 800 per ton. SAB koop jaarliks sowat 200 000 ton Suid-Afrikaanse moutgars en 70% dáárvan word in die Suid-Kaap geproduseer.

Volgens mnr. Leon Groenewald, boer van Riviersonderend en voorsitter van die Suid-Kaapse en nasionale garsbedryfskomitees, het die garsbedryfskomitees vanjaar "verskeie prysbesprekings" met SAB gehad, waarná SAB hulle op 3 Julie R1 625 per ton aangebied het.

Toe die koringprys daarna aanhou styg het, het Groenewald SAB genader om die aanbod wat hulle gemaak het, te verhoog, aangesien dit SAB se keuse was om die moutgarsprys aan die koringprys te koppel. SAB wou nie.

In Maart vanjaar het mnr. Charles Coe, handelsbestuurder: broumateriaal by SAB, gesê elke jaar probeer hulle om 'n prys vir plaaslike gars vas te stel wat die beste passing ("best fit") van die volgende drie faktore is:

  • Die invoerpariteitsprys van gars, minus 'n afslag.
  • Die prys wat SAB glo plaaslike boere vir maalkoring sal kry, plus 'n premie.
  • Die koste om gars te produseer.

    Coe het toe ook gesê die vasstelling van die garsprys is "nie regtig 'n bedingings- of onderhandelingsproses" nie. Prysvasstelling word met die garsbedryfskomitees in die twee hoof-garsproduksiegebiede bespreek, en hoewel hulle probeer om konsensus oor die prys te bereik, maak SAB op die ou end 'n aanbod aan die bedryf. Garsboere kan dan besluit of hulle die prys aanvaar of nie.

    Me. Janine van Stolk, kommunikasiebestuurder van SAB, het by navraag gesê die prys wat SAB garsboere vanjaar aangebied het, is twee maande gelede (begin Julie) met die boere bespreek en aanvaar. Die prys is gebaseer op gars- en koringpryse wat toe geheers het. Toe was dit inderdaad die beste passing, sê Van Stolk, en alle betrokkenes het saamgestem dat die aanbod 'n beste passing verteenwoordig. Sy sê SAB besef daar is 'n moontlikheid dat boere nie die prys sal aanvaar nie. "SAB sal voortgaan om gars in te voer om te verseker dat ons moutgars van die regte hoeveelheid en gehalte vir ons behoeftes het."

    Om hul produk as voergars te verkoop is volgens Groenewald nie 'n lonende opsie nie. "Die prys van voergars werk gewoonlik uit teen 80% van die koste van mielies in die Wes-Kaap - teen huidige pryse sowat R1 300 tot R1 400 per ton. Voergarsproduksie is minder riskant, maar dan moet jy darem teen planttyd weet vir watter mark jy gaan produseer. Dis nou te laat om vir die voergarsmark - waar die hoogste moontlike opbrengs, en nie 'n sekere stikstof-inhoud, die oorwegende faktor is nie - te produseer."

    30 Augustus 2007