Boere vra dr. Mohammad Karaan gereeld of Suid-Afrika dieselfde pad as Zimbabwe gaan loop. Toe gaan kyk hy self. En besluit, ja, dis moontlik.
Hy was op 'n private besoek daar, nie as Matie-lektor of ondervoorsitter van die Landboubemarkingsraad nie. Heeltemal op sy eie, en onaangekondig. Want dr. Mohammad Karaan wou op voetsoolvlak gaan sien wat aan die gang is, hy wou met gewone mense gaan praat, met die man op straat, die ouens by die gholfbaan . . .
Boonop het hy 'n baie spesiale verhouding met Zimbabwe, sê hy. Destyds, nadat hy sy graad in landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch behaal het, moes hy vir praktiese ervaring op 'n plaas gaan werk.
Hy' Zimbabwe gekies. Dit was in 1990, net toe grondhervorming daar begin het. 'n Logiese bestemming was dus die grondhervormingsplase, maar in daardie ses weke het hy die Zim-platteland deurkruis en, ja, ook Ian Smith se plaas besoek.
En natuurlik die grondhonger gesien, las hy nadenkend by.
"Toe pres. Robert Mugabe nou die dag aankondig hy halveer pryse, het iets vir my gesê ek moet teruggaan soontoe. Ek moet self gaan kyk, want van buite lyk als altyd erger."
Karaan sê hy praat dikwels met boere en hy weet dié ding lê op almal se gemoed: Is Zim ons voorland?
Hy bly stil, dermate dat ek hom later moet por: Nou wat ís jou opsomming?
"Jong, ek . . ." en dan huiwer hy weer. "Ek sê maar die ding soos hy is. Truth shall set you free!
"My indruk is, ja, ons is op pad soontoe. Ek gaan vir jou al die redes gee hoekom, maar daar is mos 'n ander kant van die saak ook. Ons is nog nie daar nie en juis daardie feit sê ons het nog 'n kans."
Die eerste ooreenkoms wentel om grondhervorming. Van een ding is Karaan oortuig: Zim se aanvanklike grondhervorming was beter as ons s'n. "Ek weet dit, want ek het daar gewerk. Nadat hul grondhervorming in die 1990' begin het, het Zimbabwe se kleinboere meer as 50 % van die land se mielie-oes gelewer - dermate dat hulle dit the maize revolution genoem het.
"Hulle het dus uiters suksesvolle kleinboere gehad.
"Maar toe begin die makro-ekonomie draai - en daardie skemas val eerste omdat hulle kwesbaarder was.
"Die kollektivisme wat in groepskemas vir boerdery ingebou is, het ook mettertyd sy tol geëis. Die kommersiële boere kon makliker aangaan, want hulle was ekonomies sterker.
" 'n Mens sou maklik kon sê dis Mugabe wat als opgeneuk het. Ja, hy was 'n bydraende faktor, maar die Britte het ook nie regtig gehelp toe hulle moes help nie. Mugabe hét 'n groot rol gespeel, maar ek dink nie hy het keuses nie.
"Onthou, dis 'n klein landjie, seker kleiner as die Vrystaat. Sy makro-ekonomie is in sy peetjie omdat daar nie genoeg geld inkom nie, hoofsaaklik weens sy politieke verhouding met Brittanje. 'n Land kan net groei as daar meer inkom as wat uitgaan. Daar kom minder in as wat uitgaan, inflasie gaan op, en dis hoe jy verarm.
"Wat kon Mugabe doen om die ding om te draai? Hy moes die massas wat vir hom gestem en geveg het, tevrede hou sodat hulle weer vir hom kan stem. Maar toe verval hy ook in die waansin van magsbeheptheid. En die eerste ding wat hy doen, is om die plase te vat, want dis wat hy vir hulle kon gee.
"Dit het die saak eintlik net vererger. Want toe vloei daar nog meer geld uit. En inflasie skiet verder op.
"Dis nie 'n ingewikkelde pad nie, dis 'n eenvoudige roete wat Mugabe geloop het. Nou bevind hy homself aan die verkeerde kant van redelikheid. Maar uit sy oogpunt lyk als vir hom logies . . ."
Die ander ooreenkoms is vergrype deur die rykes. Karaan sê in een deel van Harare bou die mense steeds kastele, hulle ry in die duurste motors rond - en dit terwyl dit sleg gaan met die land.
"Wanneer die armes swaar kry, is dit weens die sondes van die rykes. Ek sien dit daar. Ek sien vergrype van die land se natuurlike bronne."
Maar jy sê tog ons hoef nie noodwendig die Zim-roete te loop nie, bring ek hom terug na die grondkwessie.
"Ek is vandag meer optimisties as wat ek vroeër was, maar ons kan die ooreenkomste met Zimbabwe nie wegpraat nie.
"Zimbabwe is daar," wys hy met sy hand op die koffietafel, "Namibië so 'n stukkie agter, en ons weer 'n ent verder.
"Ons gaan almal deur daardie proses. Die vraag is hoe en teen watter skade jy daardie pad loop.
"Wat ek nou gaan sê, sê ek vir myself om berusting te kry: Ons is dalk 'n bietjie haastig. Daar is sekere foute wat 'n land moet maak, anders gaan hy nie goeie advies kan waardeer nie. Ons is nou by daardie punt.
"Ek dink daar word goeie advies gegee, maar die Regering pas dit nie toe nie. Jy kry amper hierdie samesweringsteorie (teen dié wat raad gee): Jy word gedurig gevra namens wie praat jy nou eintlik?
"Sekere foute moet maar gebeur, jy kan dit skoolgeld noem. Die huidige warboel met grondhervorming is een."
Jy kan dit vir iemand voortdurend sê, maar tot hy dit nie voel en sien waar ons staan, en waar ander lande staan nie, help dit nie, sê Karaan. Hy moet dit nie deur statistieke voel nie, hy moet die knyp daarvan voel. Dis daardie leerproses deur ervaring.
"Ek is nie mismoedig nie, maar 'n mens moet ook 'n wysheid oor hierdie goed hê en sê: Laat die samelewing maar 'n paar foute maak.
"Dis wat ek in Zimbabwe sien. En die ding gaan nie omdraai voordat iemand seerkry nie."
Dan sit Karaan skielik vorentoe in die gemakstoel: "Ons moet net seker maak wanneer ons seerkry, dat dit nie so groot is nie. Ek probeer myself gerusstel deur te sê goeie advies gaan nie 'n goeie resultaat meebring nie. Goeie resultate kom eers as 'n stukkie ervaring daarmee saamgaan. Dis 'n leerskool waardeur ons moet gaan.
"Ons is nog in 'n fase van konstruktiewe interaksie. Selfs hierdie ding van oud-minister Adriaan Vlok bevat nog 'n element van konstruktiewe interaksie. Ons is nog nie by destruktiewe aksie waar ons mekaar gaan vernietig nie.
"Solank ons net weet ons moet nie na destruktiewe interaksie oorgaan nie. En daar moet jy pres. Thabo Mbeki gelyk gee, hy het ons nog altyd weggehou daarvan.
"Ek dink ons is nog ver daarvandaan. Die gulsigheid wat kapitalisme bring, maak dat ons die proses wíl laat werk. Dit sê vir my ons het nog 'n kans."
En dan is daar ook die kwessie van armoede. "Ons kan nog bekostig om die armoede weg te hou met die kospakkies, die 'All Pay' en dergelike strategieë. Dit hou ook die verval in 'n mate weg. Dis 'n generasie of twee se koste wat ons maar kan betaal, ons kan dit bekostig. Zimbabwe kan dit nie bekostig nie."
Het ons inderdaad al lesse met grondhervorming geleer, vra ek hom.
"Ons het. Ek het al talle grondhervormingsprojekte geëvalueer, maar daar is nie een waarvan ek kan sê dit werk perfek nie. Daar is meer oulikes as ander, maar daar is nie 'n model van hoe dit moet wees nie. Dis egter skoolgeld wat ons maar moes betaal."
Die nuwe planne vir gebiedsgebaseerde grondhervorming inspireer hom ook nog nie. "Jy verplaas maar net die probleem na 'n volgende vlak wat nog minder weet. Dit is al 'n bietjie beter as die huidige, maar dis nog nie 'n antwoord nie.
"Die antwoord lê nie in wie die verantwoordelikheid het om die ding uit te voer nie, dit lê in wat is die model wat jy navolg, vir wie wil jy die grond gee, en het dié wat dit kry, 'n redelike kans op sukses.
"In die wêreld is boerdery so vinnig besig om al hoe minder winsgewend te raak, dat swak projekte net nie 'n kans op oorlewing het nie.
"Maar, weet jy, dis maar die gemeenskapskoste wat ons moet betaal. "Ek glo tog uit die puin van mislukkings gaan nog mooi suksesverhale kom."
Dink die Zimbabwiërs Mbeki gaan iets regkry?
"Elkeen hoop dat iemand sin in die oubaas (pres. Robert Mugabe) se kop gaan praat, maar almal weet ook, die respekvlak vir hom is baie hoog," sê dr. Mohammad Karaan. "Hulle beskou pres. Thabo Mbeki is 'n seuntjie teen Mugabe. Ek dink dus daar is 'n vlak-kwessie ter sprake.
"Hulle sê vir jou reguit, julle kan vir Mbeki bring, hierdie ou sit vir Mbeki in die hoek as hy begin argumenteer.
"Maar elke ou kyk jou in die oë en vra, wil julle nie net iets doen nie, ons kan nie so aangaan nie."
Karaan meen iemand anders as Mbeki sal dus met Mugabe moet praat, en dit kan net uit sy partygeledere kom. Wanneer Zimbabwiërs oor ses maande stem, sal hulle moet sê dinge kan nie so aangaan nie. "As hulle dit nie doen nie, verdien hulle wat na hul kant toe kom."
Gaan iemand Mugabe aanvat?
"Ek het gekyk na die MDC. Binne Zimbabwe is dit nie werklik 'n faktor nie, buite die land en in die media wel. Ek het met baie mense gepraat, maar twyfel of daar 'n swaai van Zanu-PF na die MDC gaan kom. Ek meen die swaai gaan eerder van binne Zanu-PF moet kom."
Ondanks alles, word Mugabe gereeld toegejuig. Hoe verklaar jy dit?
"Hy' 'n gewilde man. Ek het dit daar ook gesien. Almal sê die ou het te oud geraak, hy moet nou gaan. Ek dink hulle probeer 'n eerbiedwaardige uitgang vir hom kry. Maar ek het nie een mens in die land raakgeloop wat nie respek het vir hom nie, respek vir die feit dat hy die land bevry het, en dat hy opstaan teen Brittanje of enige ander groot mag.
"Jy loop mense raak wat hom steeds openlik steun. Jy kom mos gou op straat agter of daar 'n vloedgolf van emosie teen iemand is. Jy sien dit nie daar nie.
"Ek dink nie daar gaan revolusie of burgeroorlog wees nie. Ek dink dit gaan binne Zanu-PF wees."
Is die kos-situasie werklik so erg?
"O, dis tragies, Daar is nie brood, vleis of melk nie. As daar wel is, is daar lang toue. Daar is nie petrol nie. Selfoonopvangs kry jy nie, want die selfoonmaatskappye skakel van hul senders af, hulle verklein die netwerk om koste te halveer."
Hy' seker sewe kragonderbrekings belewe, dikwels sonder warm water gesit.
"Maar dan skielik kom jy by 'n winkel, en hy' weer vol goed. Ek was by 'n OK toe die goed net uit Suid-Afrika aangekom het. En dan kom kóóp die mense."
Daaroor was hy verbaas. Jy sien armoede, maar daar' steeds koopkrag. Die mense het nog geld.
"Ek dink wat gebeur het, is dat daar geweldig vinnig 'n informele ekonomie ontwikkel wat in rand, dollar of pond werk.
"Als hardloop in 'n verkeerde rigting, maar jy kry tog nie die gevoel dis asof als ineen gaan stort nie. Ses maande later en met 'n nuwe leier kan die geld baie vinnig weer terugstroom. Die infrastruktuur is daar, die plek val nie uitmekaar nie."
Landbouweekblad, 31 Augustus 2007