Landbou
'Lisien-tarief té hoog'


Die Vereniging vir Veevoervervaardigers (Afma) sê die tarief op die invoer van lisien is steeds onaanvaarbaar hoog. Hy het gereageer nadat die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) sy tarief op die invoer van lisien van 160 % tot 27 % oor die volgende drie jaar verlaag het.

Dié produk kon tot April vanjaar sonder enige heffing ingevoer word. Lisienpoeier word onder meer as 'n aminosuur-aanvulling in veevoer gebruik.

Mnr. De Wet Boshoff, hoofbestuurder van Afma, sê die vereniging beywer hom vir die verwydering van die tarief wat 'n kostebesparing van R190 miljoen vir die veevoerbedryf kan beteken. "Dit sal gevolglik verseker dat die belanghebbendes aan die onderpunt van die waardeketting mededingend kan bly."

Itac het vroeër vanjaar die tarief ingestel op die invoer van lisien uit alle lande, uitgesluit die ontwikkelende lande. In die regsgebied van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie is SA Bioproducts die enigste vervaardiger daarvan.

Boshoff sê SA Bioproducts kan nie 'n ekonomies lewensvatbare produksie sonder staatsbeskerming handhaaf nie. "Ons skryf dit toe daaraan dat dié onderneming nie in die internasionale mark kan meeding nie. Die onderneming het reeds 'n geruime tyd staatsbeskerming geniet om homself internasionaal mededingend te maak. Dit blyk duidelik dat dié pogings onsuksesvol is."

Boshoff sê sedert Mei vanjaar het Afma hom op twee knelpunte in die kostestruktuur van die veevoerbedryf toegespits. Afgesien van die tariefbeskerming op die invoer van lisien, beywer Afma hom ook vir die afskaffing van die invoertarief op soja-oliekoek.

Lede van Afma voer meer as 75 % van die plaaslike vraag na soja-oliekoek in teen 'n invoertarief van 6,6 %.

Landbouweekblad, 7 September 2007