Landbou
Biobrandstofplan weer voor Kabinet
JEAN-MARIE DE WAAL

Suid-Afrika se biobrandstofplan sal weer vandeesmaand voor die Kabinet dien.

Mnr. Mandisi Mpahlwa, Minister van Handel en Nywerheid, is oortuig dié plan sal binne die oorspronklike tydsraamwerk afgehandel word. Kabinetslede sal nou meer ingeligte besluite daaroor kan neem as voorheen, meen hy.

Ander betrokkenes meen egter die Regering sal sy beleid nie teen September gereed hê nie. Daar is ander kwessies wat terselfdertyd aandag moet kry. Dit is dinge soos 'n moontlike belastingkorting van 100 % wat dalk aan die basiese brandstofprys gekoppel moet word asook die betrokkenheid van die staat by die bedryf.

Mpahlwa wou nie uitwei oor hoe Kabinet nou oor hierdie sake dink nie.

Uit 'n regeringsverslag blyk dit dat werkskepping 'n onlosmaaklike deel van die Regering se siening van die biobrandstofbedryf bly. Net vier reëls uit die verslag van agt bladsye handel oor biobrandstof as sodanig.

In Parlementêre kringe word klaarblyklik ook nog gewik en geweeg. Mnr. David Dlali, ANC-LP, sê hy is skepties, want opkomende boere sal steeds nie die nodige gewasse kan produseer nie. Volgens hom behoort voedselsekuriteit en nie werkskepping nie die belangrikste oorweging te wees in 'n beleid oor die land se biobrandstofbedryf. Dlali is bly dat besluitnemers, soos die hoof van die Reserwebank, mnr. Tito Mboweni, al meer teen die gebruik van voedselgewasse vir biobrandstof standpunt inneem.

Dr. Rob Davies, Adjunk-minister van Handel en Nywerheid, het aan die Portefeuljekomitee vir Handel en Nywerheid gesê wêreldwyd word al hoe minder op voedselgewasse vir die produksie van biobrandstof gesteun. Hy verwag lande wat op die gebied van biobrandstof meeding, sal al hoe groter subsidies aan boere wil toestaan. Die uitwerking wat dit op die huidige ronde Doha-samesprekings het, sal dus fyn dopgehou word.

Landbouweekblad, 7 September 2007