Die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram (WFP) het die afgelope vyf jaar meer as 2 miljoen ton voedsel op plaaslike markte in Suider-Afrika vir voedselhulp in die streek aangekoop.
Die voedsel, ter waarde van meer as R3 miljard, is gelykstaande aan die daaglikse voedselverbruik van 12 miljoen mense vir 'volle jaar lank. Die WFP sê meer as die helfte van hierdie voedsel is in Suid-Afrika geproduseer en aangekoop, maar op die oomblik fokus die organisasie op aankope in lande wat goeie oeste gehad het, soos Zambië, Mosambiek en Malawi.
Die voedselsoorte sluit grane, peule, groente-olies, mielie en soja-mengsels, sout en suiker in.
Me. Josette Sheeran, uitvoerende direkteur, sê dit is nie net kostedoeltreffend om plaaslik aan te koop nie, dit help ook kleinskaalse boere en die plaaslike landbou-ekonomie. "Dit is 'wen-wen situasie omdat kleiner boere wat surplusse produseer bevoordeel word en terselftertyd word verseker dat die WFP behoeftiges in ander lande in die streek betyds kan help. "
In Suid-Afrika is van 2002 af 1,2 miljoen ton kos ten bedrae van R1,86 miljard gekoop, in Zambië 285 000 ton teen R446 miljoen, Malawi 203 000 ton teen R331 miljoen en Mosambiek 125 000 ton teen R208 miljoen.
Die WFP beplan om meer as 4 miljoen kwesbare mense in veral Zimbabwe, Lesotho en Swaziland, tot oestyd in April 2008 van voedsel te voorsien en internasionale skenkings word dringend benodig.
Landbouweekblad, 31 Augustus 2007