Landbou
Biobrandstof bedreig nie kos
Deur NICO VAN BURICK

Mense moet hulle nie blind staar teen vanjaar se mielietekort weens die droogte nie. Gewoonlik word daar 'n surplus graan en oliesade geproduseer en dit skep 'n logiese geleentheid vir die vervaardiging van hernubare brandstof.

Só sê dr. John Purchase, uitvoerende direkteur van die Landboubesigheidskamer, wat by die Suid-Afrikaanse Nasionale Energie-vereniging (Sanea) oor grondstowwe vir biobrandstof gepraat het. In een van sy laaste openbare optredes as hoofbestuurder van Graan SA, het Purchase gesê daar word gewoonlik te veel hektare aangeplant. Dit skep 'n wanbalans tussen vraag en aanbod en die surplusproduksie lei daartoe dat boere nie teen 'n wins kan produseer nie.

Hy het beklemtoon dat die doeltreffendheid van mielieproduksie heelwat verbeter het en dat selfs in tye van ernstige droogtes - soos vanjaar - voedselsekerheid nie bedreig word nie. Tydens die ernstige droogte van 1991/'92 is 2,96 miljoen ton mielies op 3,45 miljoen ha geproduseer. Dit was gemiddeld 0,86 ton/ha.

Vanjaar word geraam dat sowat 6,9 miljoen ton mielies op net 2,55 miljoen ha verbou is. Ondanks die droogte is dit steeds sowat 2,71 ton/ha. Hy skryf dié verbetering toe aan onder meer beter teelmateriaal en biotegnologie, verminderde grondbewerking en beter grondwaterbestuur (oorlêstelsels), sowel as presisieboerdery.

Purchase sê terselfdertyd verbeter die doeltreffendheid van etanolproduksie uit mielies voortdurend. In 1988 het 'n ton mielies 373 liter etanol gelewer. Vandag word 415 liter per ton deur die verskaffers van tegnologie gewaarborg. Dit is die gevolg van beter tegnologie en die teling van mielies met hoër fermenteerbare stysel. Suid-Afrikaanse mielies het gemiddeld 8 % meer stysel as mielies in Amerika. Dit sal etanolproduksie in Suid-Afrika doeltreffender maak.

Om voorsiening vir 'n inmenging van 10% bio-etanol in die jaarlikse plaaslike brandstofpoel van 11 miljard liter te maak, is daar ruimte vir sewe aanlegte wat elk jaarliks 375 000 ton mielies moet verwerk. Dit sal markruimte skep vir 2,6 miljoen ton mielies wat op 750 000 ha verbou moet word.

Die aantal hektare onder mielies het die afgelope sowat 30 jaar al van 4,5 miljoen ha af tot vanjaar se 2,5 miljoen ha verminder omdat daar nie 'n plaaslike mark vir die produk is nie. Weens die hoë vervoerkoste is die diepsee-uitvoere van mielies nie winsgewend nie.

1 September 2007