Die landbou in Suid-Afrika staan nie alleen nie. "Ons glo in 'n vennootskap tussen regering, produsent en werker wat die landbou moet dien," het mnr. Cobus Dowry, Wes-Kaapse minister van landbou, op Bredasdorp gesê.
Hy het tydens 'n gala-aand van die Melkprodusente-organisasie (MPO) gesê die belangrikste uitdagings is grondhervorming en SEB in landbou, die vervaardiging van veilige, gesonde en omgewings-sosiaalvriendelike landbouprodukte, die hantering van uitdagings deur kompetisie van mededingers weens subsidies en tariefplafonne, en die beskerming van bestaande buitelandse markte. Dan is daar toenemende nasionale en internasionale sensitiwiteit oor die veiligheid van voedsel.
Vennootskappe is egter nodig, en die landbou kan rykdom gegenereer as saamgespan word. Maar daar moet ten alle koste teen onwettige afsettings van plaaswerkers gewaak word, want dit het 'n "muishond-effek" en laat die landbou sleg vertoon, het hy gewaarsku.
Grondhervorming en SEB is die prioriteit van die regering vir maatskaplike, politieke en ekonomiese stabiliteit - veral omdat die pas van grondhervorming tot nou toe baie stadig was. In die Wes-Kaap is daar in die eerste 12 jaar net 83 000 ha oorgedra. Verlede jaar is egter 125 000 ha oorgedra, maar dit is ver van die 383 000 hektaar wat jaarliks tot 2014 oorgedra sal moet word om die 30% teiken te bereik.
Hy het gesê vooruitgang in die landbousektor is direk gekoppel aan die mate waarin primêre produksie in lyn is met die behoefte van die ekonomie. Mnr.Mbeki het die landbousektor geïdentifiseer as een van die sektore wat 'n belangrike rol moet speel om die ekonomie met 6% te laat groei met die Versnelde Groei en Ontwikkeling Strategie (ASGISA). Die sukses van ASGISA gaan afhang van die mate waarin innoverend gedink word sodat die kettings gebreek kan word wat groei belemmer. Bio-brandstof kan bydra tot ASGISA. Graan SA het die Wes-Kaapse landboudepartement genader om die lewensvatbaarheid van die bio-etanolbedryf in die provinsie te ondersoek, en 'n aanlegmodel is ontwikkel. Die Wes-Kaap produseer die laaste sewe jaar 'n gemiddelde surplus van 286 000 ton koring en dus sal die koringvoorraad vir menslike verbruik nie deur 'n aanleg wat jaarliks 286 000 ton inneem, geraak word nie.
Dié surplus is genoeg om jaarliks 102 miljoen liter etanol te produseer. Teen 'n insluiting van 6% etanol in petrol behoort die koringbedryf in die verwagte vraag na etanol te kan voorsien. Die Wes-Kaap verbruik 1, 7 miljoen liter petrol jaarliks.
Die ontwikkelende etanolbedryf kan saam met die surplus 'n goeie geleentheid vir groei en stabiliteit in die Wes-Kaapse ekonomie bied, en die pas moet versnel om 'n voorloper in die bedryf te word, het Dowry gesê. Hy het gewaarsku dat die veranderende omstandighede in die aanvraag na landbouprodukte beteken dat die prys van produkte onbepaald onder druk gaan verkeer. Die wisselkoers maak dit moeilik vir produsente om behoorlik te beplan, terwyl die penetrasie van tradisionele markte deur ander mededingers 'n faktor is waarmee rekening gehou moet word.
5 September 2007