Landbou
'Gesindheid kan grondplan pootjie'
Deur NICO VAN BURICK

'n Verkeerde gesindheid is die enigste struikelblok in die pad van suksesvolle grondhervorming in Suid-Afrika, sê mnr. André Botha, voorsitter van Agri Gauteng.

Hy het by die organisasie se jaarkongres in Pretoria gesê daar is wedersydse vertroue en resprek tussen Agri Gauteng en die provinsiale landbou- en grondsake-owerhede en daarom geskied grondhervorming suksesvol. Die mikpunt is om 29 000 ha per jaar oor te dra en tot dusver is daar in hierdie finansiële jaar reeds 40 000 ha vir hervorming beskikbaar gestel. "Ek is vol vertroue dat ons die proses in die provinsie in 2009 af sal handel. Verlede jaar is 147% van die begroting vir grondhervorming bestee en dit was die produktiefste provinsie."

Hy sê die belangrikste is dat landbougrond produktief benut moet word. Kommersiële boere moet nuwe boere in die gemeenskap aanvaar en help tot almal se voordeel. "Ek glo nie in die term ontwikkelende boer nie. As jy grond besit en dit bewerk is jy 'n boer. Daar is nie iets soos 'n vakleerlingboer nie. Almal moet dit net aanvaar en die nuwelinge by die etiek van landbou inlyf. Ekself het nog nooit 'n slegte ervaring met 'n nuwe toetreder gehad nie."

Botha het bekend gemaak dat die Agri Gauteng, in samewerking met die provinsiale regering, 'n aantal landbou-akademies in die provinsie gaan begin. Dit sal kollektief in boereverenigings se gebiede gevestig word en tot voordeel van die hele gemeenskap benut word. Dit sal ook voordele inhou vir teikens wat vir swart ekonomiese bemagtiging gestel word.

Mnr. Mzwakhe Ndlela, hoof van grondhervorming in die provinsie het die goeie verhouding bevestig en gesê ander provinsies beny Gauteng vir die sukses wat behaal word. "Agri Gauteng help om beskikbare grond te identifiseer en die mentorskapprogramme wat gevolg word, is in almal se belang".

Hy sê hy moet nog 30 000 ha landbougrond in die noorde en ooste van Pretoria aankoop en 20 000 ha aan die Wes-Rand. Hy het 'n beroep op boere gedoen om grond wat in die mark kom, eerste aan die regering beskikbaar te stel. "Ons sal markverwante pryse betaal," het hy beklemtoon.

5 September 2007