Graan SA en die Meulenaarskamer het mnr. Trevor Manuel, Minister van Finansies, se siening beaam dat nie ingegryp behoort te word om die broodprys vas te stel nie.
Manuel het dié mening verlede week in die Parlement uitgespreek ná 'n versoek deur die PAC-lid Motsoko Pheko dat die broodprys deur die Regering vasgestel moet word. Die volgende dag het Manuel sy standpunt herhaal op 'n inbelprogram op die radiostasie SAFM. Tydens dié program het sy kommer oor voedselsekerheid egter duidelik na vore gekom veral die wêreldneiging dat kosgewasse vir biobrandstof gebruik word.
"As 'n mens na die prys van stapelvoedsel kyk, was die stygings beduidend. Die prys van mielies, wat só belangrik in die voedselmandjie van Suid-Afrikaners is, het oor die laaste tyd feitlik verdubbel."
Volgens Manuel word probleme rondom voedselsekuriteit geskep as mielies en koring, produkte wat mense eet, bloot as kommoditeite gehanteer word. "Daarom dink ek dat ons nie net plaaslik nie, maar internasionaal, moet reageer hierop. Neem dit buite toe, praat daaroor as 'n wêreld. Die belangrikste graansoorte, soos mielies, koring en rys, is die kwessies waaroor ons bekommerd behoort te wees."
Manuel het na die koringsituasie verwys en gesê die droogte in Australië, asook misoeste in Argentinië, het 'n rol gespeel in stygende koringpryse.
"Wanneer jy dan ook die prys van koring wil beheer, gaan jy moet subisidieer wanneer jy 'n internasionale prysverandering het, soos nou. Dan moet jy ook in die ketting opbeweeg, en ek dink dit gaan baie moeilik wees om hierdie tipe optrede te volhou.
Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Meulenaarskamer, sê die hele kwessie oor voedselsekuriteit berus op twee bene, naamlik beskikbaarheid en bekostigbaarheid.
De Villiers sê die beginsels van die vrye mark in die landbou slaag daarin om kos aan alle Suid-Afrikaners beskikbaar te stel. Manuel sê pryse is gekoppel aan mekaar. "As jy vir 'n meulenaar sê hy moet die prys van sy brood beperk, ongeag wat hy vir koring betaal, gaan jy hom dwing om sy onderneming te sluit."
De Villiers sê twee siklusse van hoë voedselpryse het die afgelope dekade van deregulasie voorgekom wat die bekostigbaarheid daarvan vir die armste gemeenskappe onder druk geplaas het.
Die huidige neiging van duur kos word onder meer deur die vestiging van die biobrandstofbedryf veroorsaak. Ongunstige produksietoestande dra ook by tot die huidige voedselprysinflasie.
Mnr. Louw Steytler, ondervoorsitter van Graan Suid-Afrika, het Manuel geluk gewens met sy siening. Hy het 'n beroep op die totale waardeketting van die meulenaars- en bakbedryf gedoen om ondoeltreffendheid in die bedryf teë te werk en sodoende die koste in die produksie en bak van brood te verlaag. Hy sê die waardeketting moet dié geleentheid gebruik om by kleiner meulenaars en bakkers betrokke te raak sodat enige prysvoordeel wat betrokkenes in sekere gebiede het, benut kan word om die prys van brood daardeur te verlaag.
Die Meulenaarskamer het 'n beroep op die Regering gedoen om 'n regstreekse bydrae te lewer tot diegene in die armste gemeenskappe wat nie kos kan bekostig nie.
Landbouweekblad, 14 September 2007