'n Sterk en doeltreffende bedryfsliggaam is nodig wat die primêre én die sekondêre melksektor kan verteenwoordig. Dit sal van gemeenskaplike belang wees vir 'n sterk netto-uitvoerder van melkprodukte, het mnr. Theo Hendrickse, hoofbestuurder van Parmalat SA, op 'n gala-aand van die Melkprodusente-organisasie (MPO) in Bredasdorp gesê.
"Ontwikkelings in die bedryf wys dat daar nou geleenthede vir optrede is. Dit kan 'n groot impak op die regulerende omgewing hê. Die Regering is reg om toegewings te maak. Dit kan net gebeur as bewys word dat die bedryf bereid is om die groter maatskaplik-ekonomiese probleme te pak soos transformasie, bemagtiging, die integrering van opkomende boere in die waardekanaal en die verligting van armoede."
Volgens hom wil die Regering deel wees van 'n groter gesprek oor die bedryf as bloot wat die melkprys môre gaan wees.
Hendrickse is onlangs aangehaal dat hy meen die melkbedryf "is onsigbaar". Die aanhaling was korrek, maar het volgens hom die verkeerde indruk gewek. "Ek het nie gesê dat die MPO of die primêre sektor onsigbaar is nie. Die MPO is nog altyd baie sigbaar in sy verdediging van sy lede en is 'n organisasie waarop melkboere trots kan wees.
"Maar soos geen sekondêre sektorale organisasie daarop kan aanspraak maak dat hy die hele melkbedryf verteenwoordig nie, kan die MPO dit ook nie doen nie. Parmalat en ander verwerkers kan nie groei as die primêre sektor swak is en melkproduksie nie winsgewend is nie. Net só sal melkboere en die bedryf nie groei en sterk word as die verwerkers nie winsgewende en volhoubare ondernemings kan bedryf nie."
Volgens Hendrickse is almal in die melkbedryf se welslae onlosmaaklik verbind. "Wanneer sake dus bespreek word wat in belang van die ontwikkeling van 'n sterk melkbedryf is, is daar geen 'hulle en ons' nie. Dit is waarom dit so belangrik is dat ons 'n doeltreffende bedryfsliggaam moet hê," het Hendrickse gesê.
Landbouweekblad, 14 September 2007