Landbou
Verwarring oor meng van voer
AINSLEY MOOS en LUCILLE BOTHA

Groot verwarring heers oor die afkondiging in die Staatskoerant wat vereis dat boere alle veevoer wat hulle self op plase meng, moet registreer.

In 'n kennisgewing van 24 Augustus kondig me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, aan dat die definisie van veevoer uitgebrei word om veevoer in te sluit "wat voorberei word vir eie gebruik of namens enige persoon voorberei word". Die aankondiging bring mee dat alle veevoer vanaf 1 September ingevolge Wet 36 van 1947 geregistreer moet word.

Dié afkondiging kan verreikende gevolge inhou omdat dit kan beteken boere sal die wet oortree as hulle nie reeds teen vandeesweek hul voer registreer nie. Kommer is ook uitgespreek dat die registrasieproses dalk lank kan neem.

Dr. Hinner Köster, voorsitter van die Vereniging vir Veevoervervaardigers (Afma), sê op 'n vergadering met die Departement van Landbou is om meer duidelikheid gevra sodat die verwarring uit die weg geruim kan word.

"Ongelukkig is ons nog in 'n situasie waar ons waarskynlik nie 'n antwoord voor volgende maand sal kry nie.

" 'n Ander probleem is dat die regulasies wat in 2006 gepubliseer is, verskil van die regulasies wat vir kommentaar gepubliseer was. 'n Mens kry die gevoel hulle wil net geld maak sonder om die bedryf in ag te neem."

Köster sê die aankondig, soos dit gepubliseer is, het talle praktiese implikasies.

"Dit neem minstens ses maande om 'n produk te registreer. Soms gebeur dit dat ons vir kliënte 'n veevoer meng, maar dan wil hulle volgende week iets anders hê. Gaan ons lede nou weekliks 'n nuwe produk moet registreer? Dit is prakties onmoontlik."

Köster is ook bekommerd oor die departement se plan om met elke maatskappy te raadpleeg.

"Sommige gaan dan met die nuwe regulasies werk en ander nie. Waar begin 'n mens dan?"

Me. Tsotso Sehoole, woordvoerder by die Departement van Landbou, het in reaksie gesê Wet 36 verbied die gebruik van diereprodukte in voer vir lewende hawe.

Landbouweekblad, 14 September 2007