Landbou
Grondtaks-skok in Namibië


Die nuwe waardasie van plaasgrond waarop kommersiële boere grondbelasting sal moet betaal, het vir sommige boere as 'n groot skok gekom, sê die Namibiese Landbou-unie in sy jongste nuusbrief.

Die waardasie wat elke vyf jaar volgens die wet op kommersiële landbougrond van 1995 lê tans ter insae by verskeie instansies deur die land. Die huidige waardasie, wat slegs die grondwaarde aandui, sonder enige verbeteringe, sal vir die tydperk 2008 tot 2012 van toepassing wees. Persone wat wil beswaar aanteken teen die waardasie, moet dit op die voorgeskrewe vorm voor 3 Oktober 2007 doen. Enige korreksies moet ook gedoen word.

Die Namibiese ministerie van grond en hervestiging het die drakrag asook die markwaarde van grond (dit is die pryse wat plase die afgelope drie jaar in die gebied behaal het) as kriteria gebruik vir die bepaling van die grondwaarde.

Oor die algemeen is daar 'n verhoging in die waardasie van die onverbeterde landbougrond (infrastruktuur uitgesluit), wat wissel van 35% en 67% bo die waardasie vir die tydperk 2002 tot 2007 was. Namibiese burgers moet 0,75% van die waarde as grondbelasting betaal op die eerste titelakte, met 'n verhoging van 0,25% op elke daaropvolgende titelakte. Buitelanders betaal 1,75% op die eerste titelakte met 'n verhoging van 0,25% daarna.

Die algemene verhoging in die waardasie van die landbou grond deur die ministerie dui daarop dat die ministerie grond nou as 'n kapitale item sien waarvan die waarde oor tyd verhoog.

'n Ope vraag is of die markwaarde van grond sal tred hou met die verhoging in die grondwaarde. Tans word grondpryse (markwaarde) onder druk geplaas deurdat die AgriBank lenings toestaan op grond van die produksiewaarde van die grond. Die produksiewaarde is weer direk gekoppel aan die drakrag en neem nie die markwaarde, dit is die ander kriterium wat deur die ministerie gebruik word vir die bepaling van die grondwaarde, in ag nie. Indien plaaspryse nie tred hou met hierdie verhoging nie beteken dit tegnies dat die waarde van die infrastruktuur op plase dienooreenkomstig verlaag.

Plase wat die laaste tyd in die vrye mark verhandel het (hoofsaaklik boedel- en likwidasieveilings) het uitsonderlike hoë pryse behaal, wat 'n aanduiding is van die skaarsheid van landbougrond vir boere wat nie onder die huidige beperkinge van die wet andersins grond kan bekom nie. 'n Algemene verhoging in plaaspryse is dus onafwendbaar.

Droogtehulp vir boere
Die minister van landbou, water en bosbou, dr. Nickey Iyambo, het aangekondig dat die regering droogtehulp gaan verskaf. Volgens 'n persvrystelling gaan droogtehulp suid van die rooilyn verskaf word in die vorm van 50%-subsidie op die vervoer van diere na weiding. Boere noord van die rooilyn gaan 'n subsidie ontvang vir 50% vir die vervoer van diere na kwarantynkampe asook die verskaffing van water. Die minister het ook boere aangemoedig om hul diere te verminder.

Aansoeke kan by alle Landbouvoorligtings kantore gedoen word vir die subsidie. Die subsidie is as volg: N$8,00 per km met 'n minimum van 17 beeste of 80 kleinvee per vrag. 'n Boer sal kwalifiseer vir 'n totaal van 120 beeste of 720 stuks kleinvee of 'n kombinasie van die twee.

10 September 2007