GM bly 'n betwiste saak. Die antwoord lê dalk by verbruikerskeuse, meen parlementariërs. "Ek weet nou nie meer watter kant toe nie," sê 'n ANC-LP mismoedig ná 'n hele dag se verhore oor genetiesemodifikasie (GM). "Net sodra die wind my een kant toe waai, trek my gewete my weer 'n ander rigting in."
Dít bly die kern van dié netelige kwessie - albei kante van die GM-debat het sterk menings en oortuigende argumente. Maar die middeweg is dalk die uitoefening van 'n ingeligte keuse, volgens die lede van die parlementêre portefeuljekomitee oor omgewingsake en toerisme.
Hoewel die wetsontwerp vir die wysiging van die Wet op Geneties Gemanipuleerde Organismes (Wet 15 van 1997) in April vanjaar deur pres. Thabo Mbeki bekragtig is,meen mnr. Langa Zita, voorsitter van die komitee, meer debat hieroor is beslis in die Nasionale Vergadering nodig.
Dit is hoekom nog verhore oor die saak gehou is, want LP's behoort die publiek te beskerm, verduidelik hy. Sy motivering kom te midde van aantygings dat organisasies wat teen GM gekant is, soos Biowatch en Safeage, die komitee se arm gedraai het omverdere verhore te hê.
Die verhore het ten doel gehad om verder as die morele argumente vir en teen GM te kyk en eerder die kwessies van keuse, etiketering, naspeurbaarheid en regulering te bespreek.
Dié gesprekke kom teen die agtergrond dat al hoe meer GM-gewasse in Suid-Afrika geplant word.
Mnr. Hans Lombard, landbou-ontleder, het die komitee ingelig dat Suid-Afrika verlede jaar 1,4 miljoen ha GM-gewasse aangeplant het. Dit is 180% meer as in 2005 toe 44% van die mielies in die mark geneties gemodifiseer was.
Meer as die helfte van die mielies, bykans 75% van die sojabone en 92% van die katoen in Suid-Afrika is geneties gemodifiseer.
Wêreldwyd neem GM aanplantings ook toe. Die merkbaarste is Frankryk, waar sulke aanplantings van 5000ha in 2006 tot 30 000ha vanjaar gegroei het, sê Lombard.
Me. Jocelyn Webster, uitvoerende direkteur van AfricaBio, 'n biotegnologiebelangegroep, sê by die bepaling van die vraag of Suid-Afrika meer GM-regulasies nodig het, is die uitdaging om tussen waarheid en propaganda te onderskei en ook op voordele te let.
Sy sê van 1996 tot 2004 het Amerikaanse plaasinkomste met die gebruik van GM met $10,7 miljard (R80 miljard) toegeneem. In Suid-Afrika was plaasinkomste $56 miljoen (R420 miljoen) hoër, in Australië $70 miljoen (R500 miljoen), in Argentinië $10 miljard (R75 miljard), in China $4 miljard (R30 miljard) en in Brasilië $829 miljoen (R6,2 miljard).
Etikettering word ondersteun, mits die samestelling van 'n produk beduidend anders as dié van sy konvensionele eweknie is, sêWebster.
Die staat se plan vir biotegnologie beklemtoon 'n beleid waarvolgens waardetoevoeging en produktiwiteit in die landbou moet gedy, maar die buiteland beskou Suid-Afrika se regulasies as bewegende doelpale - wat lande soos Amerika onseker maak of hulle in dié sektor van Suid-Afrika wil belê. Sy sê by etikettering as 'n maatstaf vir regulering moet ook gewaak word dat dit nie as handelsversperrings ingevolge die bepalings van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) gesien word nie.
Suid-Afrika het geen wetgewing wat spesifiek die etikettering van GM-produkte voorskryf nie. Internasionale riglyne word dus gevolg en menings verskil van land tot land,en tussen regerings en kleinhandelaars (wat hul eie voorskrifte oor etikettering bepaal). Soos in Landbouweekblad berig is, het die Europese Unie se handelskommissaris nou 'n beroep gedoen dat 'n eenvormige veiligheidstelsel in die EU en ander lande aanvaar word sodat in- en uitvoerders met vertroue handel in GM-gewasse kan dryf.
Plaaslike riglyne is in pas met die internasionale Cartagena-protokol oor bioveiligheid van 2003 en ook met plaaslike wetgewing soos dieWet op Nasionale Omgewingsbestuur, Wet 107 van 1998.
Me. Renusha Chanda, assistent-direkteur: chemiese veiligheid van die direktoraat voedselbeheer van die Departement van Gesondheid, sê binne die Codex Alimentarius, die internasionale voedselwet wat etikettering insluit en die klaringstelsel van die Cartagena-protokol van kragmaak, is die etikettering van GM voedsel net verpligtend as dit allergene bevat, as 'n plant menslike gene het, en as die voedingswaarde van GM voedsel verskil van sy konvensionele eweknie.
Sy sê in Suid-Afrika kan tussentydse maatreëls oorweeg word totdat die kwessie op internasionale vlak besleg is.
Ook word gekyk na 'n stelsel vir die behoud van 'n produk se identiteit, wat op naspeurbaarheid neerkom. Dit vereis egter dat GM saad van konvensionele saad afgesonder bly. Sy sê navorsingwys dit sal voedselpryse laat toeneem. Verder is dit moeilik omdat voedsel hoë vlakke van verwerking ondergaan.
"Dit beteken nié die situasie kan nie in die toekoms verander nie. Plaaslike kostestudies, van die boer tot by die winkelrak, sal gedoenmoet word."
Me. Lesley Liddell, direkteur van Biowatch SA, bevraagteken die Regering se vermoë om GM produkte uit die mark te weer as dit nodig sou word.
Geen langtermynstudies bestaan oor die uitwerking van dié gewasse op die mens nie, sê sy. Die Minister van Landbou en Grondsake, me. Lulu Xingwana, kan omgewingsimpakstudies ingevolge die wet gelas, maar sover Liddell weet, is nog nie één in Suid-Afrika gedoen nie.
Mnr. Glen Ashton, voorsitter van Safeage se gidskomitee, sê die GM-wetgewing vergemaklik die verspreiding van GM organismes. Verder word min ag daarop geslaan dat 50 000 werksgeleenthede al in die katoenbedryf tot niet is weens die oorskakeling na GM katoen.
Suid-Afrika het oor die afgelope tien jaar grootliks op 'n "ondemokratiese wyse" en sonder teenstand die verspreiding van GM saad laat geskied. Verder is daar reeds gevalle van etikettering in Suid-Afrika - teen geen bykomende koste nie. Laastens, sê Ashton, is GM as 'n kategorie uit die nuwe Wet op Verbruikersbeskerming weggelaat.
"Ons kan dít nog keer, want die wet is nog nie deur die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar nie."
Dit blyk asof Zita sy seilboot na waters stuur waar etikettering en keusevryheid gedy: "Laat verbruikers self besluit."
Hoewel Wet 15 van 1997 goedgekeur is, kan dié komitee tog as 'n drukgroep optree en bekommernisse in Xingwana se ore fluister. Die komitee se voorstel van 'n GM-beraad word dalk net verwelkom.