Landbou
Du Toit-uitlatings oor onteiening gekap
Deur THEUNS BOTHA

Uitlatings deur mnr. Dirk du Toit, die adjunkminister van Landbou in die nasionale wetgewer dat boere wat hulle werkers van plase onregmatig afsit, se grond onteien gaan word, het heftige reaksie in die georganiseerde landbou uitgelok.

Mnr. Cerneels Pietersen, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê hy is binne minute ná Du Toit se uitlatings op TV oorval met oproepe van boere wat hulle ontsteltenis oor die saak uitgespreek het. "Agri Oos-Kaap beskou die uitlatings van die adjunkminister as uiters onverantwoordelik omdat dit die werkverhouding tussen kommersiële boere en plaaswerkers kan beduiwel. Daar is voldoende wetgewing rondom die onregmatige uitsettings van werkers wat toegepas kan word, waar boere hulle aan wangedrag skuldig maak.

"Om 'n uitlating te maak dat boere wat oortree, se grond onteien gaan word en aan die werkers op die plase gegee sal word, is totaal onvanpas aangesien daar na ons beste wete geen wetgewing bestaan om só 'n reëling te tref nie. Du Toit het geen mandaat om so 'n uitspraak te maak nie."

Pietersen sê hy is bevrees dat dit verwagtinge by oningeligte plaaswerkers wat nie met die nasionale wetgewing vertroud is nie kan skep en hulle grondeienaars doelbewus gaan tart net om die plase te bekom. "Hoe kan ons die Ministerie van Landbou vertrou en positief wees as dit dié tipe uitlatings is wat hulle die Parlement maak?

"Dit volg kort op die uitsprake van die Minister van Landbou rondom plaasafsettings. Ons was bereid om haar 'n billike kans te gee en nou kom die adjunkminister en gaan selfs verder met sy verregaande siening."

Pietersen het gesê dat sy vereniging Agri SA gaan vra om uitklaring oor die aangeleentheid te kry. "Daar is boere wat daagliks deur werkers getart word. Met die jongste uitspraak kan dit sake net vererger en sal ons die adjunkminister daarvoor verantwoordelik," het Pietersen bygevoeg.

  • Luidens 'n berig op RSG het Du Toit gesê daar is baie verantwoordelike boere in Suid-Afrika, maar dat boere wie werkers van plase afsit, se plase onteien gaan word.

    12 September 2007