Groot ontsteltenis heers in landbougeledere oor die uitlatings van mnr. Dirk du Toit, Adjunkminister van Landbou en Grondsake, dat boere wat werkers van plase afsit, se grond onteien sal word.
Die TLU SA het Agri SA versoek dat hulle gesamentlik moet optree om Du Toit te dwing om sy stelling terug te trek. Mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê daar sal gekyk word na konsensus oor 'n wye front teen die uitlatings.
Van der Merwe, wat die TLU SA se kongres sou bywoon, moes inderhaas vertrek om die magdom binne- en buitelandse medianavrae oor die kwessie te hanteer nadat die bom gister (Woensdag, 12 September) in die Parlement gebars het.
Mnr. Cerneels Pietersen, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê hy is binne minute ná Du Toit se uitlatings op televisie uitgesaai is, oorval met oproepe van boere wat hul ontsteltenis oor dié saak uitgespreek het.
"Agri Oos-Kaap beskou die uitlatings as uiters onverantwoordelik omdat dit die werkverhouding tussen kommersiële boere en plaaswerkers kan beduiwel. Daar is voldoende wetgewing rondom die onregmatige uitsettings van werkers wat toegepas kan word as boere hulle aan wangedrag skuldig maak.
"Om 'n uitlating te maak dat boere wat oortree, se grond onteien en aan die werkers op die plase gegee sal word, is totaal onvanpas aangesien daar na ons beste wete geen wetgewing bestaan om só 'n reëling te tref nie. Du Toit het geen mandaat om so 'n uitspraak te maak nie."
Pietersen sê hy is bevrees dat dit verwagtinge kan skep by oningeligte plaaswerkers wat nie met die nasionale wetgewing vertroud is nie en hulle grondeienaars doelbewus gaan tart net om die plase te bekom.
Mnr. Paul van der Walt, voorsitter van die TLU SA, het sy ontstoke lede by sy kongres tot kalmte en verantwoordelike optrede gemaan.
"Die ergste vorm van diskriminasie lê in sy stelling dat ook mense wat wettig werkers ontslaan, ondersoek sal word met die oog op onteiening. Dit beteken die minister kan bo-oor landswette loop en leuens versprei sodat verdere plaasmoorde kan plaasvind. Ons is dik vir ongegronde stellings. Hulle is dalk die grootste party, maar Brittanje was ook groot."
Du Toit het intussen wéér beklemtoon dat grondhervorming nie beëindig sal word as die Regering sy doelwit bereik om 30% van die land se grond teen 2014 in swart besit te hê nie.
"Grondhervorming is 'n deurlopende proses. Ek kan nie insien dat die proses by die mikpunt kan eindig nie. Dit moet uiteindelik die bevolkingsamestelling weerspieël," het Du Toit op 'n vraag van mnr. Pieter Groenewald, LP van die VF Plus, geantwoord.
Groenewald het daarna gevra of dit dan nog die moeite werd is om in Suid-Afrika te boer. Du Toit sê weens die uiteenlopendheid van Suid-Afrika kan nie met presiesheid gesê word hoeveel hektaar per persoon "uitgedeel" kan word nie. Volgens hom is 30% eintlik te min as na die behoefte in die land gekyk word.
13 September 2007