Agri SA is op die punt om saam met ander staatsdepartemente en diensverskaffers 'n maatskaplike kontrak met die Departement van Behuising te onderteken. Dit is daarop gemik om behuising en dienste in landelike gebiede te verskaf.
Die maatskaplike kontrak is, afgesien van enkele klein wysigings, deur Agri SA se algemene raad aanvaar. Mnr. Kobus Kleynhans, direkteur van arbeid by Agri SA, sê sowat 20 organisasies en instellings is by die gesprek oor die maatskaplike kontrak betrokke.
Dit is onder meer gemik op die ontwikkeling van die landelike infrastruktuur soos plaasdorpies wat ook vir plaaswerkers toeganklik sal wees. Benewens hierdie kontrak, word daar ook reeds geruime tyd met die Departement van Behuising onderhandel oor 'n behuisingstrategie vir plaaswerkers.
"In die breë is daar konsensus dat verblyfgeleenthede weg van die plaas af voorkeur moet geniet. In ekstensiewe landbougebiede, soos in die Noord-Kaap, waar dit nie prakties moontlik is nie, moet gekyk word na staatshulp vir verblyf en dienste op plase."
Kleynhans sê die vraag word al lank gevra of die Regering sy verpligting teenoor verblyf en dienste aan mense, soos plaaswerkers, in landelike gebiede nakom. Met die maatskaplike kontrak en die behuisingstrategie kan daar 'n trappie nader na dié doelwit beweeg word.
Die kwessie van plaasdorpies het ook op Kwanalu se kongres in Pietermaritzburg ter sprake gekom. Dr Johan van Rooyen, uitvoerende hoof van die SA Wynbedryfsraad, sê die landbou moet hom baie sterker beywer om landboudorpies gevestig te kry, wat 'n heenkome aan plaaswerkers bied.
Hy sê die afsetting van plaaswerkers bly 'n netelige kwessie al geskied dit wettig. "Al is dit volkome wettig, haal dit steeds die koerante. Ons weet dit is die Regering en munisipaliteite se verantwoordelikheid om behuising in die geval van wettige afsettings te voorsien, maar ongelukkig is dit nie altyd só maklik nie."
"Dit is 'n ingewikkelde kwessie omdat daar 'n menslikheidsdimensie daaraan gekoppel is en omdat werkverskaffing en verblyf op plase so ineengeskakel is. Daarom moet gesoek word na iets wat polities minder gevoelig is en die gedagte van dorpies af van plase af moet daadwerklik bevorder word."
Landbouweekblad, 21 September 2007