Landbou
Rekordprys vir Afrikanerbul
CHARL VAN ROOYEN

'n Afrikaner-infusiebul het 'n Suid-Afrikaanse rekordprys van R230 000 op 'n veiling van 'n groep beestelers op Potchefstroom behaal.

Die bul is deur dr. Richter Jordaan se Zebustoet in Bothaville geteel. Jordaan was baie in sy skik toe Landbouweekblad hom bel. Hy en 'n aantal telers hou al jare lank saam veiling en beskou hulself as 'n "rebellegroep wat infusie doen om die Afrikaner te verbeter". Die bul, Zebu 50, kom uit sy infusieprogram met die Bonsmara.

Mnr. Danie Pretorius van die Barrange-stoetery, Kuruman, was die koper. Hy sê hy was bereid om soveel te betaal omdat die bul alles het waarna hy soek, naamlik die regte verhouding tussen hoogte, lengte, bespiering en vleis. Hy gaan hom vir dekking en die tap van saad gebruik.

Mnr. Hennie Snyman van Paradigm Landboukundige Adviseurs in Parys, wat die bul vir Pretorius uitgesoek het, sê die bul het baie goeie visuele eienskappe en het uitstekend gedurende sy evalueringsfase gepresteer.

Die veiling is deur BKBLouwid aangebied.

Landbouweekblad, 21 September 2007